’n Man van Durban moes dringend opgespoor word nadat hy deur ’n groen mamba gebyt is en mense op Facebook hom glo verkeerdelik verseker het dat die slang onskadelik is.

Die voorval het in die Bluff-gebied plaasgevind nadat die man die slang raakgeloop en doodgemaak het. Foto’s van die slang is daarna op Facebook gedeel met ’n versoek dat mense help om dit uit te ken.

Verskeie mense het die slang as ’n onskadelike gevlekte bosslang geïdentifiseer.

Die slangkenner Jason Arnold, beter bekend as die “Snake Man”, het die plasing gesien en die slang onmiddellik as ’n hoogs giftige groen mamba herken. Hy het gewaarsku dat die gebyte man so gou moontlik mediese hulp moes kry.

Toe Arnold nie reaksie op sy waarskuwing kry nie, het hy die persoon wat die foto geplaas het privaat probeer kontak en ook ander lede van die Facebook-groep om hulp gevra. Twee vroue wat ook besef het hoe ernstig die situasie is, het gehelp om ’n kontaknommer vir die oorspronklike plasing se skrywer op te spoor.

Arnold het toe verneem dat die gebyte man bekend is in die omgewing en dikwels daar gesien word. Hy het egter reeds weggestap nadat hy meegedeel is dat die slang onskadelik is.

’n Soektog is daarna in die Brighton Beach-gebied van stapel gestuur. Die man is later by ’n Engen-vulstasie in Tarastraat opgespoor nadat gemeenskapslede en plaaslike veiligheidsrolspelers by die soektog betrokke geraak het.
Toe hy ondersoek is, is vasgestel dat hy aan sy voorarm gebyt is. Daar was twee duidelike geswelde plekke op sy arm en hy het gesê dat hy vroeër siek gevoel en opgegooi het.

Hoewel hy op daardie stadium betreklik goed gelyk het, het dié simptome kommer laat ontstaan oor die uitwerking van die slanggif. Arnold het daarop aangedring dat hy hospitaal toe gaan en onder waarneming bly. Die man het daarna ingestem om na Wentworth-hospitaal te gaan en daar oornag te bly ingeval sy toestand versleg.

Arnold het ná die voorval gewaarsku teen die gebruik van algemene sosiale media-groepe om slange uit te ken, veral wanneer iemand reeds gebyt is. Verkeerde identifikasie kan ernstige gevolge vir mense, troeteldiere én die slange self hê.

Hy het mense aangeraai om eerder die kontakbesonderhede van betroubare slangvangers of kundiges in hul omgewing byderhand te hou en slegs op bevestigde identifikasies van ervare kenners staat te maak.