Veertien skoolspanne van reg oor die land het van 16 tot 18 Oktober by die FAK se Udolpho-Rivierplaas naby Parys byeengekom vir die Rapportryers se jaarlikse Nasionale Bybelvasvra-finaal.
Die kompetisie, wat reeds sedert 1979 aangebied word, is volgens die organiseerders die oudste van sy soort. Die FAK tree as beskermheer op.
Hoewel die Bybelvasvra die hoogtepunt van ’n jaar se voorbereiding en Bybelstudie was, het die naweek ook op geloof, kultuurerfenis, spanwerk en vriendskap gefokus.
Laerskool Hennopspark is as nasionale kampioen in die laerskoolafdeling aangewys. Laerskool Mooirivier van Potchefstroom het tweede geëindig en Laerskool Elarduspark derde.
In die hoërskoolafdeling het Hoërskool Dirk Postma die eerste en tweede plek verower, met Hoërskool Zwartkop in die derde plek.
Met hul aankoms die Vrydag het deelnemers aan ’n ysbrekeraktiwiteit deelgeneem waartydens elkeen hul gunsteling-Bybelkarakter gedeel het.
’n Nuwe tradisie is ook begin toe elke kind ’n klip wit geverf, hul naam daarop geskryf en die klippe saam in die vorm van ’n kruis gepak het. Die kruis sal jaarliks uitgebrei word wanneer toekomstige deelnemers hul eie klippe byvoeg.
Die kinders het ook die getal 190 gevorm ter herdenking van die Slag van Vegkop 190 jaar gelede.
Vrydagaand het die deelnemers ’n Bybelse aandete met Johannes 6:9 as tema geniet en as verskillende Bybelkarakters aangetrek. Daarna het hulle tyd in die veld deurgebring vir stilte, dankbaarheid en nadenke.
Vanjaar se voorgeskrewe gedeeltes het Handelinge 1–4, 1 Timoteus 1–6 en Joël 1–3 ingesluit. Psalm 8 is ook behandel.
Ná die finale ronde Saterdag het die deelnemers aan verskeie kultuur- en ontspanningsaktiwiteite deelgeneem, waaronder vlotbou, toutrek, sakresies, kettieskiet, minigholf en vlugbal.
Die FAK-Geesbeker is vanjaar vir die eerste keer toegeken as erkenning vir geesdrif, samewerking en deelname.
Die deelnemers is in gemengde groepe verdeel sodat leerders van verskillende skole saam kon werk. Die hoogtepunt van die middag was ’n vlotresies waarin die spanne hul selfgeboude vlotte op die water getoets het.
Saterdagaand het die deelnemers en organiseerders om ’n braaivleisvuur saamgekuier. Die kinders het ook hul talente met stomstreke, sang en dansoptredes ten toon gestel.
Verskeie toekennings is oorhandig, waaronder die Udolpho-uitblinkertoekenning, Patriot-kaarte en die FAK-Geesbeker.
Die deelnemers het ook flitsliggies ontvang wat Matteus 5:13–15 simboliseer en hulle herinner dat gelowiges die sout van die aarde en die lig van die wêreld behoort te wees.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die naweek het gewys dat geloof en kultuur nie net deur boeke en formele onderrig oorgedra word nie, maar ook deur ervarings en gedeelde oomblikke.
“Die kompetisie bly ’n belangrike platform waar jongmense aangemoedig word om die Woord van God te bestudeer, hul erfenis te waardeer en hul lig helder in die wêreld te laat skyn. Maar uiteindelik lê die grootste waarde van die naweek nie net in die kennis wat opgedoen of die pryse wat gewen is nie, maar in die geloof wat versterk, die kultuur wat beleef en die vriendskappe wat gevorm is,” sê Langner.
Terugspore/Pingbacks