Die Duitse duikboot U-672, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vermis geraak het, is sowat 32 km van Salcombe in Devon gevind. Die wrak lê ongeveer 70 m onder die see-oppervlak en is ná ’n ontdekking in Augustus deur ’n duikspan van Plymouth geïdentifiseer.
Die duikboot is in Julie 1944 deur die Britse vlootvaartuig HMS Balfour aangeval. Die 52 bemanningslede het almal oorleef. Die bevelvoerder het die beskadigde duikboot na die oppervlak gebring sodat die bemanning in reddingsvlotte kon ontsnap. Britse vliegtuie en vaartuie het hulle die volgende dag opgespoor en na ’n krygsgevangenekamp geneem.
Die wrak is aanvanklik deur ’n diepseeduikspan van Portland ontdek. Lede van die Gasperados-duikspan het dit later aan die hand van kenmerke soos die snorkel en beheertoring as die U-672 geïdentifiseer.
Die Duitse U-boot-historikus dr. Axel Niestle het gesê die posisie in die vloot se dokumente was weens ’n administratiewe fout sowat 74 km van die werklike ligging af. Die oorlewende bemanningslede, onder wie die bevelvoerder, het ná die oorlog na Duitsland teruggekeer.
Terugspore/Pingbacks