Die polisie in Limpopo het ’n ondersoek na beweerde strafbare manslag begin nadat ’n driejarige meisietjie tragies oorlede is nadat sy glo vir meer as agt uur lank in ’n geslote motor agtergelaat is.
Die voorval het Maandag by die Seshego-hospitaal in Polokwane plaasgevind. Volgens polisiewoordvoerder kol. Malesela Ledwaba is beamptes ontbied toe die kind se liggaam in ’n Toyota Corolla Cross op die hospitaal se parkeerterrein gevind is. Die voertuig se vensters was toe, en die dogtertjie was op die agtersitplek.
’n Dokter het bevestig dat die kind aan hitte en ’n gebrek aan suurstof beswyk het. Voorlopige inligting dui daarop dat die moeder haar kind per ongeluk in die motor vergeet het toe sy omstreeks 07:00 by die hospitaal aangekom het vir ’n oordraggeleentheid.
’n Geregtelike lykskouing sal uitgevoer word om die presiese oorsaak van die dogtertjie se dood vas te stel, terwyl die polisie se ondersoek na die voorval steeds aan die gang is.