Die Sharks wil hul Europese toer onoorwonne afsluit wanneer hulle Saterdag om 19:30 teen Munster op Thomond Park in Limerick speel.
Dit is die Durban-span se vyfde wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap voordat die kompetisie vir die November-toetse onderbreek word.
Die Sharks het reeds op toer teen Lyon en Cardiff gewen. Afrigter JP Pietersen sê die oorwinning oor Cardiff het die span se karakter getoets, veral omdat hulle met beserings moes klaarkom. Hy wil nou sien dat die span vir die volle 80 minute op dieselfde vlak kan speel.
Munster se fisieke spel en hul sterk werk by die afbreekpunte gaan volgens Pietersen een van die grootste uitdagings wees. Kaptein Nick Hatton sal saam met Manu Tshituka en Matt Romao ’n belangrike rol speel om die Sharks daar in die wedstryd te hou.
Pietersen sê die wedstryd bied Tshituka ook ’n kans om hom teen sterk teenstanders te bewys en sy aanspraak op ’n plek in die Springbokke se wedstrydgroep te versterk voor die komende Nations Championship.
Hatton neem die kapteinskap oor by André Esterhuizen, wat weens ’n besering nie beskikbaar is nie. Senter Jurenzo Julius is ook beseer.
Ethan Hooker bereik intussen ’n mylpaal en sal sy 50ste wedstryd vir die Sharks in ’n internasionale kompetisie speel.