WASHINGTON – Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in die Verenigde State, Roelf Meyer, sê president Donald Trump se uitvoerende bevel teen Suid-Afrika sal opgehef moet word indien die jongste Amerikaanse invoertariewe suksesvol aangespreek wil word.
“Die beginpunt is om die uitvoerende bevel opgehef te kry. Solank die uitvoerende bevel van krag bly, kan dit gebruik word om tariewe, handelsbeperkings of ander strafmaatreëls teen Suid-Afrika te regverdig,” het Meyer gesê.
Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA is nou onderhewig aan ‘n tarief van 12,5%, hoewel sekere produkte, waaronder bepaalde landbouprodukte en ander kommoditeite, daarvan vrygestel is.
Hy sê hy het ‘n duidelike mandaat van president Cyril Ramaphosa en die kabinet ontvang om oplossings deur onderhandeling te probeer vind.
Volgens Meyer handel die gesprekke oor meer as net tariewe en sluit dit ook Suid-Afrika se grondonteieningswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), die land se buitelandse beleid en marktoegang vir Amerikaanse vark- en pluimveevleis in.
Hy beklemtoon egter dat die regering nie sy beleid oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sal laat vaar nie.
“Daar is geen manier waarop Suid-Afrika daarvan kan wegstap nie,” het Meyer gesê en bygevoeg dat dit “‘n beginselsaak” is.
Meyer waarsku ook dat die Trump-administrasie onvoorspelbaar kan wees.
“Ek dink nie ons kan net daarop staatmaak nie. Die Withuis kan môre terugkom en iets heeltemal anders sê,” het hy gesê