Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), sal volgende week gevonnis word, maar hou vol dat hy steeds besig is om teen sy skuldigbevinding appèl aan te teken.
Malema moet volgende Woensdag en Donderdag weer in die landdroshof in Oos-Londen verskyn vir vonnisoplegging nadat hy skuldig bevind is aan die oortreding van vuurwapenwetgewing.
Die saak spruit uit ’n politieke byeenkoms in Mdantsane in 2018, waar hy op beeldmateriaal gesien is hoe hy skote in die lug afvuur voor duisende ondersteuners.
Malema voer aan dat sy skuldigbevinding wesenlik gebrekkig is. “Dit is duidelik dat daar alles in die stryd gewerp word om my tronk toe te stuur. Ek is egter nie daaroor bekommerd nie. Ons gaan voorbereid hof toe en verstaan wat die ander kant se bedoelinge is. Dit is duidelik dat hulle daarop uit is om my uit te skakel,” het hy gesê.