Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State, Roelf Meyer, het gevra vir direkte gesprekke tussen Pretoria en Washington om die huidige diplomatieke dooiepunt te probeer verbreek.

Meyer sê die verhouding tussen die twee lande is gespanne, maar meen die situasie kan verbeter indien die regerings direk met mekaar begin praat.

“Ons moet kan gaan sit en die feite op die tafel plaas,” het hy gesê. Volgens Meyer kan gesprekke oor Suid-Afrika se deelname aan die African Growth and Opportunity Act (AGOA) ook help om te verseker dat Amerikaanse besluitnemers oor die regte inligting beskik voordat besluite geneem word.

AGOA gee kwalifiserende lande in Afrika voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark, insluitend belastingvrye toegang vir meer as 1 800 produkte. Suid-Afrika is tans ’n AGOA-begunstigde, maar sy geskiktheid word jaarliks hersien. Die program se huidige hergoedkeuring loop tot 31 Desember 2026.

Suid-Afrika se voortgesette deelname is tans onseker. President Cyril Ramaphosa het onlangs gewaarsku dat uitsluiting uit AGOA volgens hom “verwoestend” kan wees. Hy het Suid-Afrikaners egter ook aangemoedig om voorbereid te wees indien die land sy voorkeurstatus verloor.

Ramaphosa sê die regering sal in so ’n geval alternatiewe uitvoermarkte probeer vind.

Die onsekerheid kom te midde van gespanne betrekkinge tussen Pretoria en Washington. Die Trump-administrasie het Suid-Afrika oor verskeie beleidskwessies gekritiseer, terwyl Pretoria sommige van die Amerikaanse regering se aantygings oor onder meer grondbeleid en rasse-aangeleenthede verwerp het.

Washington het ook visumbeperkings aangekondig teen Suid-Afrikaners wat volgens by rasgebaseerde diskriminasie, die aanhitsing van geweld of grondkonfiskasie sonder vergoeding betrokke is. Pretoria betwis dié aantygings.

Die spanning het ook na die G20 uitgebrei. Suid-Afrika is nie genooi om aan die Amerikaanse G20-leiersberaad in Desember deel te neem nie, hoewel Suid-Afrikaanse sakeverteenwoordigers en die ambassade wel aan die B20, die sakeforum van die G20, in Washington sal deelneem.

Meyer sê hy wil nie skuld vir die verswakte verhouding toeken nie, maar sien dit as deel van sy taak om die bande tussen die twee lande so gou moontlik te herstel.

Volgens hom is die ekonomiese verhouding te belangrik om te ignoreer. Meer as 600 Amerikaanse maatskappye doen volgens Meyer sake in Suid-Afrika en dra tot plaaslike werkskepping by.

Hy sê die verhouding moet daarom op sowel handels- as politieke vlak verbeter.

Meyer het gesê Suid-Afrika behoort nie ’n “politieke voetbal” in groter internasionale geskille te word nie en dat die land se eie nasionale belang eerste gestel moet word.

Indien die VSA Suid-Afrika se AGOA-status wil beëindig met ingang van 1 Januarie, moet Washington minstens 60 dae vooraf kennis aan die Amerikaanse Kongres en Suid-Afrika gee. Daarom word die komende dae as belangrik vir Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die program beskou.