’n Flydubai-vlug van Dubai na Tel Aviv het Woensdag ’n noodlanding in Saoedi-Arabië gemaak nadat een vlieënier glo die ander met ’n mes aangeval het.
Vlug FZ1073 was onderweg na Ben Gurion-lughawe toe ’n noodsein uitgestuur is. Kort daarna is kode 7500 geaktiveer — die kode wat gebruik word vir moontlike onregmatige inmenging of ’n kaping aan boord.
Volgens passasiers het ’n gewelddadige onderonsie in die stuurkajuit uitgebreek. Een vlieënier is glo ernstig gesteek voordat passasiers naby die voorkant van die vliegtuig gehelp het om die aanvaller uit die stuurkajuit te kry en vas te trek.
’n Passasier het gesê daar was baie bloed in die vliegtuig en dat mense geskree het toe die vliegtuig skielik skerp begin daal.
Volgens ’n ander passasier was daar nog twee vlieëniers agter in die vliegtuig. Hulle is glo vorentoe geroep om beheer van die vliegtuig oor te neem.
Die beseerde vlieënier is volgens mediaberigte deur ’n tandarts aan boord behandel.
Vlugdata wys dat die vliegtuig in minder as twee minute meer as 5 000 meter gedaal het voordat dit van koers verander het.
Die vliegtuig het uiteindelik veilig by Tabuk-lughawe in Saoedi-Arabië geland.
Flydubai het bevestig dat daar ’n “voorval” aan boord was en dat alle passasiers veilig en verantwoord is.
Israeliese amptenare het gesê die situasie is onder beheer en dat reëlings getref word om die Israeliese passasiers terug huis toe te bring.
Die presiese omstandighede rondom die aanval word nog ondersoek.
Terugspore/Pingbacks