Solidariteit waarsku dat die moontlikheid dat Suid-Afrika voor Kersfees uit die Amerikaanse Agoa-handelsprogram geskop kan word, volgens hom daagliks groter raak.
Die Withuis is tans besig met ’n hersieningsproses om te bepaal watter Afrika-lande volgende jaar vir Agoa-voordele sal kwalifiseer. Solidariteit sê ’n aankondiging oor Suid-Afrika kan waarskynlik reeds voor 1 November volg.
Volgens die organisasie het uitsprake deur minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Ronald Lamola tydens sy onlangse besoek aan die VSA, asook Dirco se besluit om die Amerikaanse ambassadeur oor sy diplomatieke optrede ter verantwoording te roep, die spanning tussen Pretoria en Washington verder verhoog.
Solidariteit meen dié gebeure skep meer ruimte vir die VSA om Suid-Afrika se voortgesette deelname aan Agoa te heroorweeg.
Lamola het tydens sy besoek aan die VSA gesê die verhouding tussen die twee lande het ’n “kritieke laagtepunt” bereik en dat Suid-Afrika hom op die slegste moontlike scenario moet voorberei. Hy het ook Amerikaanse druk oor BEE, grondhervorming, onteiening en Suid-Afrika se buitelandse beleid as kwessies van Suid-Afrikaanse soewereiniteit beskryf.
Volgens Solidariteit kan tot 250 000 Suid-Afrikaanse poste direk of indirek geraak word indien die land sy Agoa-voordele verloor. Die organisasie sê meer as 500 000 poste in Suid-Afrika is van handel met die VSA afhanklik.
Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann, sê die beëindiging van Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan deel vorm van ’n volgende ronde Amerikaanse strafmaatreëls.
Hy beskryf uitsluiting uit Agoa as ’n vinnige en duidelike strafmaatreël wat volgens hom binne weke aangekondig kan word.
Solidariteit meen die situasie is ernstig genoeg dat die regering dit as ’n noodtoestand moet hanteer en dring daarop aan dat Pretoria dringend met Washington probeer skik voordat die volgende Agoa-lys bekend gemaak word.
Hermann sê Solidariteit bly oortuig dat Suid-Afrika en die VSA ’n oplossing kan vind, maar meen die jongste optrede deur Dirco maak dit moeiliker.
Hy sê ook Lamola se onlangse uitsprake het volgens Solidariteit waarskynlik verdere skade gedoen en beskryf dit as moontlik “die laaste spyker in Suid-Afrika se Agoa-doodskis”.
Solidariteit sê daar is in die VSA ook ernstige kommer oor Suid-Afrika se rasgebaseerde wetgewing, handelsbeperkings en beleidsrigtings wat volgens Amerikaanse amptenare teen hul ekonomiese en veiligheidsbelange indruis.
Volgens Hermann gaan dit oor veel meer as net Agoa: honderde duisende werksgeleenthede en miljarde rande se handel met die VSA kan op die spel wees.
Terugspore/Pingbacks