Indiese owerhede beplan ’n ingewikkelde en gevaarlike operasie om die liggaam wat al sowat 30 jaar naby die kruin van Mount Everest lê en onder klimmers as “Green Boots” bekend geword het, van die berg af te haal.
Owerhede meen die oorskot is waarskynlik dié van Dorje Morup, ’n lid van ’n historiese Indiese Everest-ekspedisie wat in 1996 in ’n sneeustorm omgekom het. Die identiteit is egter nog nie finaal bevestig nie.
Indië is tans op soek na ’n gespesialiseerde span vir bergingswerk op groot hoogtes om die gevaarlike operasie uit te voer.
Die liggaam, met sy kenmerkende heldergroen bergklimstewels, lê op ’n hoogte van ongeveer 8 500 meter onder ’n oorhangende rots en het oor die jare ’n bekende, maar sombere baken vir klimmers geword.
Vir jare is aanvaar dat “Green Boots” die liggaam van Morup se spanmaat Tsewang Paljor was. Getuienis van oorlewende lede van die 1996-ekspedisie, die plek van die klimmers se laaste radiokontak en die klere en klimtoerusting aan die liggaam het owerhede egter in onlangse jare laat glo dat dit Morup kan wees.
Die identiteit sal eers met sekerheid vasgestel kan word nadat die oorskot afgehaal en DNS-toetse gedoen is.
Morup was 48 jaar oud en ’n lance naik, oftewel ’n onderoffisier, in die Indo-Tibetan Border Police (ITBP), wat groot dele van Indië se grens met China bewaak.
Hy was een van ses lede van ’n ITBP-ekspedisie wat Everest van die moeiliker Chinese kant wou uitklim. Drie lede het weens ’n sneeustorm omgedraai, maar Morup, Paljor en Tsewang Smanla het voortgegaan en die 8 849 meter hoë kruin bereik.
’n Sneeustorm het hulle tydens die afdaling getref en al drie is dood. Die ander twee klimmers se liggame is volgens die bron nooit gevind nie, terwyl die oorskot wat as “Green Boots” bekendstaan op die berg agtergebly het.
Die afhaal van die liggaam sal uiters gevaarlik wees. Dit lê binne Everest se sogenaamde doodsone, waar temperature tot ongeveer -40 °C kan daal en die suurstofvlak ongeveer ’n derde van dié op seevlak is.
Die noordelike kant van Everest, aan Chinese kant, is boonop steiler en beskik nie oor dieselfde ondersteunings- en helikopterontruimingsvermoë as die Nepalese kant nie.
Volgens ervare bergklimmers kan 10 tot 12 klimmers wat self bekwaam is om Everest se kruin te bereik, nodig wees bloot om ondersteuningstoue aan te bring om die liggaam te bereik.
Die bevrore oorskot sal daarna fisiek na ’n laer hoogte gedra moet word, waar dit moontlik per helikopter of met jakke verder vervoer kan word.
Sulke operasies hou besondere gevare in omdat liggame wat in ysbedekte klimtoerusting vasgevries is, verskeie kere swaarder as ’n gemiddelde persoon kan wees. Die liggaam kan ook in ’n ongemaklike posisie vasgevries wees, wat die afdra daarvan oor die steil terrein nog gevaarliker maak.
Kenners raam dat selfs betreklik eenvoudige bergingsoperasies op Everest tussen $40 000 en $80 000 kan kos.
Die ITBP sal die beoogde operasie finansier en hoop om die oorskot in September terug te bring. Daar word tans na geskikte Sherpa-bergingspanne gesoek om die taak uit te voer.
Indien DNS-toetse bevestig dat die oorskot wel dié van Morup is, sal dit aan sy familie oorhandig word.
Vir Morup se gesin in Ladakh kan dit ’n einde bring aan drie dekades van onsekerheid. Sy vrou, Konchak Yangskit, het vertel dat sy ondanks gebede ná die tragedie lank gesukkel het om te aanvaar dat haar man dood is omdat sy nooit sy liggaam gesien het nie.
Van Morup se nalatenskap het die familie steeds sy medaljes, trofeë, enkele foto’s van sy bergklimavonture en ’n sertifikaat van die Chinese regering. Dié sertifikaat verklaar dat hy op 10 Mei 1996 om 17:30 die kruin van Everest bereik het.
Morup se seun, Punchok Dorjai, sê die familie beplan om ’n begrafnis naby Martyrs Park in Leh, die hoofstad van Ladakh, te hou indien die oorskot suksesvol teruggebring en as dié van sy pa geïdentifiseer word.
Indien die oorskot as Morup s’n bevestig word, beplan die familie ook om die beroemde groen bergklimstewels te bewaar.