Speurders in Fidji ondersoek die verdwyning van ’n groot hoeveelheid kokaïen wat as bewysstukke by die hooggeregshof in Suva gehou is en gedeeltelik met meel vervang is.

Die polisie het in Februarie 2019 op 39 blokke kokaïen, met ’n totale gewig van sowat 39,5 kilogram, beslag gelê tydens ’n klopjag by ’n woning in Caubati, Nasinu. Toetse wat destyds gedoen is, het bevestig dat die blokke kokaïen bevat het.

Die polisie het vroeër in September ontdek dat sewe van die blokke uit die hooggeregshof se bewyskamer vermis word.

Die ontdekking het daartoe gelei dat die oorblywende 32 blokke forensies getoets is. Volgens die polisie het die toetse geen spoor van kokaïen gevind nie en is die inhoud van die pakkies met meel vervang.

Fidji se polisiekommissaris, Rusiate Tudravu, het gesê ’n ondersoek is aan die gang om vas te stel hoe die dwelms verdwyn en die bewysstukke mee gepeuter is.

Hy het beklemtoon dat die bewysstukke, nadat dit by die hooggeregshof ingedien is, onder die beheer van die regbank was.

Die voorval kom te midde van toenemende kommer oor internasionale dwelmhandel deur die Stille Oseaan. Fidji het ’n belangrike deurgangsgebied geword vir dwelms wat onder meer na Australië en Nieu-Seeland gesmokkel word.

Die land worstel terselfdertyd met toenemende plaaslike dwelmgebruik, veral metamfetamien. Die deel van besmette naalde word ook verbind met die skerp styging in MIV-gevalle in Fidji.

Die Fijiese regering het in September ’n nasionale gesondheidsnoodtoestand afgekondig om die groeiende MIV-krisis aan te pak.