DOHA – Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gedreig om ’n groot Iraanse gasveld “grootskaals te vernietig” tensy Teheran ophou om Katar se energie-infrastruktuur aan te val. Die infrastruktuur het Donderdag reeds ernstige skade opgedoen.
Ru-oliepryse het met 5% gestyg namate die jongste aanvalle vrese aanwakker dat die oorlog in die Midde-Ooste, wat nou al byna drie weke duur, blywende skade aan die wêreldwye energievoorsiening kan aanrig.
Teheran het as vergelding vir ’n Israeliese aanval op Iran se South Pars-gasveld — deel van die wêreld se grootste aardgasreserwe — ’n reeks aanvalle op energiepersele in die Golf geloods, insluitend Katar se reuse-aanleg vir vloeibare aardgas (VAG) by Ras Laffan
Trump het op sosiale media ’n beroep gedoen dat aanvalle op sowel Iranse as Katarse energiepersele gestaak word.
Volgens hom het Washington “niks geweet” van Israel se vroeëre aanval op die South Pars-gasveld nie. Hy het beloof dat daar “GEEN VERDERE AANVALLE DEUR ISRAEL” op die terrein sal plaasvind indien Iran ophou om Katar aan te val nie.
Trump het egter gewaarsku dat indien Iran nie gehoor gee nie, die VSA “die hele South Pars-gasveld grootskaals sal opblaas”.
‘OMVANGRYKE SKADE’
Energiepryse het reeds die hoogte ingeskiet nadat skeepsverkeer deur die Straat van Hormuz, waardeur sowat ’n vyfde van die wêreld se olie beweeg, byna tot stilstand gekom het weens die dreigement van Iraanse aanvalle.
Sedert die oorlog op 28 Februarie begin het, het Amerikaanse en Israeliese magte Iran se leierskap met ’n reeks aanvalle verswak, insluitend die jongste aanval waarin intelligensiehoof Esmail Khatib dood is.
Duisende mense is glo in Iran dood in die aanvalle, maar Teheran gaan voort met missiel- en hommeltuigaanvalle regoor die Midde-Ooste, terwyl dit olievoorsiening beperk.
Katar se staatsenergie-maatskappy het gesê brandbestryders het verskeie brande by die Ras Laffan-aanleg onder beheer gebring ná Iraanse missielaanvalle.
Saoedi-Arabië het gesê hy behou die “reg om militêre optrede te neem” nadat hommeltuie wat energie-infrastruktuur geteiken het, onderskep is, terwyl wrakstukke van ’n ballistiese missiel naby ’n raffinadery suid van Riaad geland het.
‘BLOED HET ’N PRYS’
’n Iraanse missielaanval het ’n Thaise buitelandse werker in sentrale Israel doodgemaak, wat die dodetal daar op 15 te staan bring. Missielwrakstukke het ook drie Palestynse vroue in die Wesbank doodgemaak.
Die Franse president Emmanuel Macron het gesê hy het met Trump en die Emir van Katar gepraat en gevra vir ’n moratorium op aanvalle wat burgerlike infrastruktuur teiken.
Die dood van Khatib volg op die sluipmoord op veiligheidshoof Ali Larijani, terwyl Israel sy veldtog verskerp om senior Iraanse amptenare uit te skakel.
Iran se president, Masoud Pezeshkian, het die moord op Khatib as ’n “lafhartige sluipmoord” veroordeel, terwyl die land se nuwe opperleier, Mojtaba Khamenei, vergelding belowe het. “Elke druppel bloed wat vergiet word, het ’n prys,” het hy gesê.
‘GROOTLIK VERSWAK’
In Washington het die VSA se intelligensiehoof, Tulsi Gabbard, gesê Iran se regering is steeds “intakt maar grootliks verswak”, en dat Teheran nog nie kernverryking hervat het nie.
Libanon is ook by die konflik ingetrek nadat die Iran-gesteunde groep Hezbollah rakette op Israel afgevuur het. Israeliese aanvalle het sentrale Beiroet herhaaldelik getref, terwyl gevegte met Hezbollah verskerp het. Lang rye motors het langs Libanon se suidkus gevorm terwyl inwoners uit geteisterde gebiede na die stad Sidon gevlug het.
Een inwoner, Nidal Ahmad Chokr, het gesê hy het uiteindelik besluit om sy dorp te verlaat toe die lugaanvalle vererger. “Bakkers is dood terwyl hulle brood gemaak het, en munisipale werkers is dood terwyl hulle met stootskrapers gewerk het,” het hy gesê.
Frankryk se minister van buitelandse sake, Jean-Noel Barrot, sou Donderdag Libanon besoek om steun te betoon.
In Irak het die pro-Iraanse groep Kataeb Hezbollah gesê hulle sal aanvalle op die Amerikaanse ambassade vir vyf dae opskort, mits sekere voorwaardes nagekom word, insluitend ’n einde aan Israeliese aanvalle in Beiroet en op woongebiede in Irak.
Daar is geen aanvalle op die Amerikaanse ambassade in Bagdad vanaf Woensdagaand tot Donderdagoggend aangemeld nie.