Sterrekundiges het twee enorme planete buite ons sonnestelsel ontdek wat ongeveer so groot soos Jupiter is, maar ‘n buitengewoon lae digtheid het. Die sogenaamde “super puff”-planete is so yl dat hulle met spookasem vergelyk word.
Die ontdekking laat wetenskaplikes kopkrap oor hoe sulke groot planete bymekaar kan bly sonder om eenvoudig in die ruimte uitmekaar te dryf.
Carl Lindemann, uitreikkoördineerder van die Astronomiese Vereniging van Suider-Afrika (ASSA) se Kaapse afdeling, sê die planete is ‘n groot wetenskaplike raaisel.
“Wat besonders is, is dat hul digtheid so laag is dat dit moeilik is om te verstaan hoe hulle bymekaar bly en nie bloot in die ruimte uitmekaar dryf nie,” het hy gesê.
Volgens Lindemann sien sterrekundiges net ‘n oomblik van die planete se bestaan en weet hulle nie of dié wêrelde nog altyd só was of stadig besig is om uitmekaar te val nie.
“Ons weet eenvoudig nie. Kyk ons na planete wat nog altyd so was, of is hulle besig om geleidelik te verdwyn?”
Die twee planete is ongeveer 1 100 ligjare van die aarde af, maar wetenskaplikes kon steeds hul massa en digtheid bereken deur hul wentelbane te bestudeer.
“Ons kan die wentelbewegings van hierdie hemelliggame waarneem en daaruit hul massa aflei,” het Lindemann verduidelik.
Hy het bygevoeg dat wetenskaplikes ook op ‘n mate van beredeneerde afleiding steun wanneer hulle die planete se grootte bereken.
Volgens Lindemann beleef sterrekunde tans ‘n besonder opwindende tydperk.
“Ons leef in ‘n goue era van sterrekunde. Met instrumente soos die James Webb-ruimteteleskoop leer ons die heelal ken op maniere wat vir vorige geslagte soos toorkuns sou gelyk het.”
Hy vergelyk die ontdekking met die Cassini-ruimtesending, wat gewys het dat Saturnus se bekende ringe stadig besig is om te verdwyn.
“Ons is buitengewoon bevoorreg dat ons in ‘n tyd leef waarin ons sulke verskynsels kan waarneem.”