Twee mans is tot tronkstraf gevonnis vir hul aandeel in die plaasaanval waarin Jannie Weideman in Desember 2023 op Roodepoort-plaas naby Ermelo vermoor is.

Die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof, wat in Delmas gesit het, het Mbongeni Walter Nkosi (36) en Mxolisi Sibusiso Mnisi (38) op 22 Oktober gevonnis nadat hulle skuldig gepleit het op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Volgens die polisie het die aanval op die aand van 22 Desember 2023 plaasgevind. Beamptes is omstreeks 22:00 na die plaas ontbied, waar ’n veiligheidsmaatskappy reeds op die toneel was.

Veiligheidsbeamptes het glo ’n persoon van die plaashuis sien weghardloop. Toe hulle die huis binnegaan, het hulle Weideman bewegingloos op die sitkamervloer aangetref.

Die polisie het vasgestel dat hy verskeie skiet- en steekwonde opgedoen het. Verskeie leë 9 mm-patroondoppies is op die toneel gevind en nooddienspersoneel het hom daar dood verklaar.

’n Rooi Toyota Hilux, vuurwapens, ammunisie en juweliersware is tydens die aanval gesteel. Die bakkie is later verlate in Breyten gevind.

Vier mans is uiteindelik as beskuldigdes in die saak aangehou. Die saak is aan die SAPD se provinsiale moord-en-roofeenheid oorhandig en vuurwapens en ammunisie is tydens die ondersoek teruggevind.

Nkosi is tot 20 jaar gevangenisstraf vir moord en 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis. Vyf jaar van die roofvonnis loop saam met die moordvonnis, wat beteken dat hy effektief 25 jaar tronkstraf sal uitdien.

Mnisi is tot 20 jaar vir moord gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Hy het ook agt jaar vir roof met verswarende omstandighede ontvang, waarvan drie jaar saam met die moordvonnis loop. Hy sal effektief 23 jaar gevangenisstraf uitdien.

Die saak teen ’n derde beskuldigde, Bongani Khoza, is tot 20 November 2028 uitgestel vir verhoor in die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof, wat in Breyten sal sit.

’n Vierde persoon het ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet immuniteit ontvang en sy naam word nie bekend gemaak nie.

Mpumalanga se provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Apaphia Modise, het die vonnisse verwelkom en die ondersoekspan, vervolging en regbank vir hul werk geloof.