Volgens die Ouditeur-generaal hanteer sommige SAPD-speurders glo tussen 600 en 800 dossiere elk, terwyl probleme met forensiese dienste en gebrekkige toerusting ondersoeke verder vertraag.
Die bevindings is onlangs tydens ’n voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee oor polisie uitgelig. Hoë en ongelyke saakladings kan volgens die Ouditeur-generaal die gehalte, spoed en doeltreffendheid van ondersoeke benadeel.
Ervare speurders sê die druk verskil van stasie tot stasie. By groter stasies en gespesialiseerde eenhede kan ’n speurder tussen 90 en 120 ernstige sake hanteer, terwyl speurders by kleiner stasies soms honderde dossiere op hul lessenaars het.
Die situasie word verder bemoeilik deur wagtye vir nadoodse ondersoekverslae en forensiese uitslae, waaronder bloed- en dwelmontledings.
Speurders sê hulle moet terselfdertyd misdaadtonele besoek, getuies ondervra, hofsake voorberei en administratiewe werk voltooi. Volgens hulle word die werk ook bemoeilik deur ’n tekort aan voertuie, foutiewe rekenaars en onvoldoende drukfasiliteite.
Die Parlement se portefeuljekomitee het ook kommer uitgespreek oor tekortkominge in ondersoeke en vertragings met forensiese uitslae. Die SAPD se speurdienste het volgens die jongste verslag net nege van sy 22 prestasieteikens bereik.
Kriminoloog Niven Naidoo waarsku dat buitensporige werkladings daartoe kan lei dat belangrike leidrade nie behoorlik opgevolg word nie, getuienis onvolledig bly en ondersoeke vertraag word.
Speurders sê die druk raak ook hul persoonlike lewe en geestelike welstand. Hulle word dikwels ná ure, oor naweke en selfs tydens verlof oor sake gekontak.
Kenners meen meer personeel, beter toerusting, behoorlike ondersteuning en ’n doelgerigte plan om agterstallige sake af te handel, is nodig om die druk op speurders te verlig.