Donovan Marx veg om sy lewe in ’n Potchefstroomse hospitaal nadat hy Woensdagoggend tydens ’n gewelddadige plaasaanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp geskiet, gesteek en gemartel is.

Volgens die beskikbare inligting is Marx twee keer geskiet en met ’n skerp voorwerp in die been gesteek. Sy ore is ook tydens die aanval afgesny.

Sy swaer, Pieter Steyn, sê Marx het onder meer ’n skietwond in die blad en een in die rug opgedoen. Dokters was Woensdagmiddag nog besig om die omvang van sy beserings te bepaal en het volgens Steyn steeds probeer om ’n koeël te verwyder.

Die aanval het kort ná 08:00 plaasgevind nadat Marx se vrou, Louise, die plaas verlaat het om werk toe te gaan. Marx en ’n plaaswerker was toe nog op die eiendom.

Volgens die familie is die plaaswerker deur die aanvallers vasgebind. Hy het later daarin geslaag om homself los te wikkel en alarm te maak.

Teen die tyd dat hulp opgedaag het, was Marx ernstig beseer. Die familie sê hulle weet nog nie presies wat alles tydens die aanval gebeur het nie.

Die aanvallers het volgens die familie met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug. Die voertuig was Woensdagmiddag steeds vermis.

Die polisie het kort ná die aanval op die toneel aangekom en ’n soektog na die aanvallers begin. Volgens die beskikbare inligting was hulle teen Woensdagmiddag nog op vrye voet.

Steyn sê die aanval het die familie diep geskok, veral omdat dit so naby aan hul eie huis gebeur het. Marx bedryf volgens hom nie ’n groot boerdery nie en doen hoofsaaklik self die werk op die familieplaas. Hy en sy vrou het geen kinders nie.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, het die aanval as “buitengewoon wreed” beskryf. Hy sê die besonderhede van die marteling is so ontstellend dat die party dit nie volledig bekend wil maak nie.

Mulder het sy medelye met Marx en sy naasbestaandes uitgespreek en hom ’n spoedige en volle herstel toegewens.

Hy het ook gesê plaasaanvalle gaan volgens hom dikwels met ernstige geweld gepaard en het president Cyril Ramaphosa gevra om groter prioriteit aan landelike veiligheid te gee.

Die polisie het aangedui dat verdere besonderhede oor die voorval bekend gemaak sal word sodra meer inligting beskikbaar is.