MIV/vigs-programme en die bekamping van bek-en-klouseer het geld in die 2026-mediumtermynbegroting gekry, maar geen direkte toekenning is aan die Padongelukkefonds gemaak nie, ondanks uitstaande verpligtinge van sowat R439,49 miljard.

Minister van finansies Enoch Godongwana het Woensdag die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring in die Parlement voorgelê.

R556,7 miljoen sal oor drie jaar herskik word om MIV/vigs-programme te ondersteun nadat Amerikaanse PEPFAR-befondsing onttrek is.

Volgens die begrotingsdokumente is nog R606 miljoen aan die departement van landbou beskikbaar gestel om bek-en-klouseer te bekamp. Hiervan word R423,4 miljoen in 2026/27 herskik en R183 miljoen uit die vorige boekjaar oorgedra om entstowwe uit te rol.

Die Padongelukkefonds het intussen geen direkte toekenning ontvang nie. Die fonds se uitstaande verpligtinge staan op sowat R439,49 miljard.

Toe Godongwana daaroor uitgevra is, het hy gesê die kwessie is “bo my betaalvlak” en die vraag na die Nasionale Tesourie verwys.

Direkteur-generaal Duncan Pieterse sê twee spanne ouditeure ondersoek die fonds se verpligtinge en die langtermyngevolge daarvan.

Minister van vervoer Barbara Creecy sê ’n verhoging in die brandstofheffing word nie oorweeg nie en dat die fonds eers sy administrasie in orde moet kry.