Die minister van Korrektiewe Dienste, dr. Pieter Groenewald, het op 28 Oktober 2026 ’n memorandum van verstandhouding met die Suider-Afrikaanse Landbou-inisiatief (Saai) onderteken om landbouproduksie binne korrektiewe sentrums uit te brei en terselfdertyd die rehabilitasie en herintegrasie van oortreders te bevorder.
Die vennootskap fokus op drie hoofgebiede: voedselproduksie, rehabilitasie en herintegrasie.
Ingevolge die ooreenkoms sal Saai gratis tegniese advies en landboukundige kundigheid aan Korrektiewe Dienste se plase verskaf. Die organisasie sal ook help om landboukennis en vaardighede aan departementele amptenare oor te dra, met die doel om boerderypraktyke te verbeter en produksie te verhoog.
Die projek sal aanvanklik vir 12 maande as ’n loodsprojek by ses korrektiewe sentrums ingestel word. Dit is Leeuwkop, Zonderwater, Baviaanspoort, Losperfontein, Groenpunt en Grootvlei.
Deur voedselproduksie te verhoog, wil die departement druk op die staatskas verminder en korrektiewe fasiliteite meer selfonderhoudend maak. Die projek sluit aan by Korrektiewe Dienste se Self-Sufficiency and Sustainability Framework.
Groenewald sê die vennootskap sal ook lae-risiko oortreders die geleentheid gee om praktiese landbou-ervaring op te doen, relevante vaardighede te ontwikkel en toegang tot erkende, geakkrediteerde opleiding te kry.
“Dit gee oortreders ’n beter kans om werk te kry nadat hulle vrygelaat is,” het hy gesê.
Volgens Groenewald is die ontwikkeling van oortreders se vaardighede en werksvooruitsigte nie net ’n rehabilitasiekwessie nie, maar ook ’n investering in gemeenskapsveiligheid.
Suksesvolle herintegrasie ná vrylating kan volgens hom help om die risiko te verminder dat oortreders weer misdade pleeg.
Die vennootskap is dus daarop gemik om voedselproduksie te versterk, oortreders met praktiese vaardighede toe te rus, rehabilitasie te ondersteun en uiteindelik tot veiliger gemeenskappe by te dra.
Terugspore/Pingbacks