Vlaamse nasionaliste het hul stem by dié van Afrikaners gevoeg in reaksie op die uMkhonto weSizwe-party (MK) se voorneme om artikel 235 oor selfbeskikking uit die Suid-Afrikaanse Grondwet te verwyder.
Tydens ’n byeenkoms in Antwerpen het verteenwoordigers van Vlaamse organisasies, waaronder die Vlaamse Nasionalistiese Vereniging (NSV), ’n verklaring voorgelees waarin hulle hul solidariteit met die Afrikanervolk uitspreek. Hulle beskryf die voorgestelde wysiging as ’n aanval op die reg tot selfbeskikking en roep Afrikaners op om daarteen te reageer.
Die groep het beklemtoon dat daar historiese en kulturele bande tussen Vlaminge en Afrikaners bestaan wat terugdateer na die tyd van die Verenigde Nederlande, toe Jan van Riebeeck na die Kaap gereis het. Hierdie gedeelde verlede vorm die grondslag vir ’n gevoel van broederskap en wedersydse begrip. Daarom sing hulle vandag nog sekere liedere by elke nasionalistiese byeenkoms. Hulle het dus 3 volksliedere:
1. De Vlaamse Leeuw (Vlaamse volkslied)
2. Wilhelmus (Nederlandse volkslied)
3. Die Stem
Hulle het ook na historiese Afrikanerleiers — soos president Paul Kruger, Piet Retief en Andries Pretorius — verwys en ’n beroep gedoen dat dieselfde gees van deursettingsvermoë weer onder Afrikaners moet ontwaak.
In hul verklaring het hulle Afrikaners aangemoedig om hul stem te laat hoor en betyds kommentaar te lewer teen die voorgestelde verandering. 
Verder het die Vlaamse nasionaliste aangedui dat hulle self van plan is om die saak onder die aandag van die Suid-Afrikaanse ambassade in België te bring, onder meer deur protesaksies.
Een van die sprekers, Ortwin Geerinck, het gesê Afrikaners staan nie alleen nie en dat daar internasionale steun is vir die behoud van selfbeskikking as beginsel. Hy het artikel 235 beskryf as deel van ’n breër mensereg wat ook buite Suid-Afrika erken word.