Veldbrande in die Amerikaanse deelstaat Washington het sowat 60 000 mense in die Spokane-gebied gedwing om hul huise te verlaat, terwyl minstens 600 huise, sakepersele en ander strukture reeds verwoes is.
Die brande in en om Spokane, Washington se tweede grootste stad, het oor die naweek sowat 21 vierkante kilometer verskroei en is van tientalle veldbrande wat tans groot dele van die westelike Verenigde State teister.
Altesaam sowat 1 000 vierkante kilometer grond het reeds in Washington afgebrand. Sommige van die brande, waaronder dié in die Spokane-gebied, is nog nie onder beheer gebring nie.
Brandweer- en wetstoepassingsowerhede het gesê daar is tot dusver geen berigte van beserings of vermiste persone nie, maar het beklemtoon dat dit nog vroeg in die reddings- en bluspoging is.
Videomateriaal uit die Spokane-gebied toon geboue wat in vlamme opgaan, dik swart rook wat oor woonbuurte hang en die smeulende oorblyfsels van huise waarvan net skoorstene nog staan.
Die Amerikaanse senator Maria Cantwell het gewaarsku dat die gevaar nog nie verby is nie.
“Ons is nog nie buite gevaar nie. Die volgende paar dae gaan uitdagend wees,” het sy tydens ‘n mediakonferensie saam met federale, staats- en plaaslike amptenare gesê.
Die oorsaak van die brande is nog nie vasgestel nie.
Washington is nie die enigste deelstaat wat met verwoestende brande worstel nie.
Brandbestryders gebruik reeds tien dae lank stootskrapers en helikopters om ‘n veldbrand in Wes-Idaho en Oos-Oregon te bestry. Die brand het byna 1 360 vierkante kilometer grasveld verwoes en bedreig meer as 600 huise en 800 ander strukture in ‘n gebied waar beesboerdery ‘n belangrike bedryf is.
In Sentraal-Utah het ‘n groot veldbrand oor die naweek tot meer as dubbel sy grootte gegroei. Teen Sondagoggend het dit van ongeveer 41 vierkante kilometer tot 145 vierkante kilometer uitgebrei. Volgens plaaslike wetstoepassers is meer as 100 beeste reeds in die brand dood.