Springbok-agsteman Jasper Wiese sal Sondag ’n belangrike mylpaal in sy loopbaan bereik wanneer hy in sy 50ste toets vir Suid-Afrika teen Australië in Perth speel.
Die 30-jarige Wiese is op die plaasvervangerbank vir die kragmeting in die Optus-stadion en sal sy 50ste toetsverskyning bereik wanneer hy op die veld kom.
Wiese het in 2021 op Loftus Versfeld teen Georgië sy toetsdebuut gemaak en het sedertdien ’n gereelde en belangrike lid van die Springbokgroep geword.
Vermeulen bring hulde aan Wiese
Die voormalige Springbok-agsteman Duane Vermeulen het voor Wiese se mylpaal lof vir hom gehad en hom as ’n belangrike figuur in die Bokpak beskryf.
“Hy is ’n fantastiese speler en ’n ware staatmaker in die span,” het Vermeulen gesê.
Volgens Vermeulen speel Wiese ook ’n toenemend belangrike rol in die span se leierskapsgroep. Hy het verder Wiese se vermoë om voorwaartse momentum te skep uitgesonder en meen die 30-jarige het steeds baie om te bied.
Verskeie Bokke bereik mylpale
Wiese is die jongste Springbok wat vanjaar ’n groot toetsmylpaal bereik.
Damian de Allende en Pieter-Steph du Toit het reeds die 100-toetskerf bereik, terwyl Cheslin Kolbe en Ox Nché hul 50ste toetse gespeel het.
Eben Etzebeth sal Sondag sy rekord as die Springbok met die meeste toetsverskynings verder uitbrei wanneer hy sy totaal tot 147 opstoot.
Malcolm Marx beweeg intussen nader aan 100 toetse. Ná Sondag se wedstryd sal hy nog ses toetsverskynings nodig hê om dié mylpaal te bereik.
Wallabies word nie onderskat nie
Hoewel Wiese se 50ste toets ’n persoonlike hoogtepunt sal wees, verwag die Bokke ’n taai stryd teen Australië.
Vermeulen het gewaarsku dat die Wallabies by die afbreekpunte probleme kan veroorsaak, terwyl hul skrum, lynstaan en dryfmaal ook verskillende uitdagings vir die Springbokke sal bied.
Australië staan ook onder leiding van die nuwe hoofafrigter Les Kiss.
“Hulle sal goed voorbereid wees en ons sal hulle nie onderskat nie,” het Vermeulen gesê.
Die Springbok-aanvangspan het gesamentlik 527 toetse se ervaring, waarvan die voorspelers 317 en die agterlyn 210 bydra. Die plaasvervangers voeg nog 342 toetsverskynings by.
André Esterhuizen sal die 68ste speler word wat die Springbokke aanvoer, terwyl Franco Mostert vir die eerste keer sedert die November-toets teen Wallis na die toetsspan terugkeer.
Suid-Afrika het vyf van sy laaste ses toetse teen Australië sedert September 2022 gewen. Die enigste nederlaag in dié ses wedstryde was verlede seisoen in Johannesburg.
Die Bokke se vorige besoek aan Perth in 2024 het in ’n oorwinning van 30-12 geëindig.
Terugspore/Pingbacks