KAÏRO – Argeoloë het ‘n merkwaardig goed bewaarde stad uit die Bisantynse tydperk in Egipte se Westelike Woestyn ontdek – ‘n vonds wat nuwe lig werp op ‘n florerende Christelike gemeenskap wat sowat 1 600 jaar gelede daar gewoon het.
Die opgrawings is by Ain Al-Sabil in die Dakhla-oase deur Egipte se Opperraad van Oudhede uitgevoer. Volgens die raad is dit een van die mees volledige Bisantynse nedersettings wat nog in die streek ontdek is.
In die hart van die stad is ‘n vierde-eeuse kerk in basiliekstyl gevind, wat daarop dui dat daar reeds ‘n gevestigde Christelike gemeente in die gebied was.
Navorsers meen ‘n ouer woning het moontlik as ‘n huiskerk gedien voordat die basiliek opgerig is.
Byna 200 erdewerkfragmente met Koptiese en Griekse inskripsies is ook ontdek.
Volgens navorsers lewer die ontdekking verdere bewyse van die Christendom se teenwoordigheid in Egipte gedurende die Bisantynse tydperk, toe die geloof se invloed oor groot dele van die streek toegeneem het.