Rassie Erasmus en die Springbokke se bestuurspan het ná hul reekssege van 3-1 oor die All Blacks hul koppe kaalgeskeer – maar presies wat die weddenskap behels het, bly ’n geheim.
Die kaalgeskeerde koppe het aandag getrek ná die Bokke se oorwinning van 43-28 oor Nieu-Seeland in die vierde en laaste toets in Baltimore Saterdag.
Erasmus het eerste ’n foto van hom en skrumafrigter Daan Human met hul pas geskeerde koppe op sosiale media gedeel. Sy kriptiese verduideliking was: “the prize of a bet” – oftewel die prys van ’n weddenskap.
Drie uur later het Erasmus nóg ’n foto geplaas. Dié keer het die hele Springbok-bestuurspan met kaalgeskeerde koppe verskyn, onder wie die mediabestuurder Zeena Isaacs.
“Reëls is reëls,” het Erasmus by die foto geskryf.
Maar wat was die weddenskap?
Ondersteuners het gou begin bespiegel oor wat agter die kaalgeskeerde koppe sit. Van die moontlikhede wat geopper is, was dat die Bokke drie wedstryde agtereenvolgens moes wen, hul eerste plek op die wêreldranglys moes behou, of dat die weddenskap met Erasmus se 100ste oorwinning aan die stuur van die wêreldkampioene verband hou.
Geen van dié teorieë is egter bevestig nie en Erasmus en sy bestuurspan het nog nie verklap wat die weddenskap behels het nie.
Kaptein Siya Kolisi het ook sy kop kaalgeskeer en ná die oorwinning ’n foto van hom en Erasmus gedeel. In sy onderskrif het hy na Erasmus se 100ste oorwinning verwys en “#bleskop” bygevoeg.
Dit is nie duidelik of Kolisi deel van die oorspronklike weddenskap was of bloot besluit het om ook sy kop kaal te skeer nie.
Erasmus en sy bestuurspan het tot dusver nie verklap wat presies die geheimsinnige weddenskap behels het nie.
