’n Vuurpyl van die ruimtevaartmaatskappy Blue Origin het tydens ’n toets op sy lanseerplatform in Florida ontplof.
Beeldmateriaal van die voorval wys hoe die vuurpyl in ’n reuse vuurbal ontplof en die gebied rondom die lanseerplatform in vlamme opgaan.
Blue Origin het bevestig dat daar tydens ’n enjintoets ’n tegniese probleem ontstaan het. Die maatskappy sê alle personeel is veilig en niemand is beseer nie.
Die ontploffing het omstreeks 21:00 plaaslike tyd by Cape Canaveral in Florida plaasgevind. Plaaslike owerhede sê daar is geen gevaar vir inwoners of die publiek nie.
Blue Origin is in 2000 deur die Amazon-stigter, Jeff Bezos, gestig.
Bezos het op sosiale media gesê dit is nog te vroeg om die presiese oorsaak van die ontploffing te bepaal.
“Dit was ’n moeilike dag, maar ons sal herstel wat nodig is en weer voortgaan met ons ruimteprogram,” het hy gesê.
Die Amerikaanse Ruimtemag het bevestig dat noodspanne na die toneel ontbied is en dat ondersoekers saam met Blue Origin werk om vas te stel wat die ontploffing veroorsaak het.
Die vuurpyl was besig met ’n toets ter voorbereiding van ’n toekomstige lansering toe die voorval gebeur het.
NASA se administrateur, Jared Isaacman, het gesê ruimtevaart bly een van die moeilikste tegnologiese uitdagings en dat die ontwikkeling van nuwe swaarvrag-vuurpyle baie kompleks is.
Hy sê die voorval sal deeglik ondersoek word om die invloed daarvan op toekomstige missies te bepaal.
Die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie (FAA) het gesê hulle is bewus van die voorval, maar dat die toets nie onder hul gelisensieerde aktiwiteite geval het nie. Lugverkeer is ook nie deur die ontploffing geraak nie.
Die voorval volg kort nadat die FAA ’n ondersoek gelas het na ’n vorige Blue Origin-sending waarin ’n satelliet nie sy beplande wentelbaan bereik het nie.
Daardie sending het die New Glenn-vuurpyl gebruik om ’n AST SpaceMobile-satelliet die ruimte in te stuur, maar die sending was nie heeltemal suksesvol nie.
Blue Origin het egter verlede jaar ’n belangrike mylpaal bereik toe ’n New Glenn-vuurpyl suksesvol gelanseer is en die herbruikbare lanseertrap vir die eerste keer veilig teruggebring is.