PepsiCo het aangekondig dat ProNutro in Suid-Afrika gestaak gaan word nadat die maatskappy nie daarin kon slaag om die bekende smaak en tekstuur van die oorspronklike produk te herskep nie.
Die besluit volg enkele maande nadat die sogenaamde “New Generation ProNutro” in April bekend gestel is. Dié weergawe het veranderinge aan die ontbytgraan se resep, tekstuur en verpakking behels.
Volgens PepsiCo was die doel om ProNutro steeds aan verbruikers beskikbaar te stel, die voedingsvoordele daarvan te behou en die produk op ’n meer omgewingsvolhoubare manier te vervaardig.
Nuwe smaak val nie oral in die smaak nie
Die veranderinge het egter kritiek van sommige verbruikers ontlok. Klagtes het veral oor die smaak, tekstuur en mengbaarheid van die nuwe ProNutro gegaan.
“Ons het geluister en opsies ondersoek om die oorspronklike produkervaring terug te bring, maar ons kon nie die smaak en tekstuur herskep wat verbruikers met die oorspronklike ProNutro verbind het nie,” het PepsiCo gesê.
Die maatskappy het daarna ’n uitgebreide hersiening gedoen voordat die finale besluit oor die produk geneem is.
“Ná ’n lang en deeglike hersiening het ons die moeilike besluit geneem om ProNutro in Suid-Afrika te staak. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat verbruikers oor baie jare aan die handelsmerk gegee het,” lui PepsiCo se verklaring.
Waarom die resep verander is
PepsiCo het vroeër verduidelik dat die aanpassing van die resep deels verband gehou het met verouderende infrastruktuur en toerusting wat nie meer betroubaar gefunksioneer het nie. Veranderinge aan die vervaardigingsproses was volgens die maatskappy nodig om die gehalte van die produk te handhaaf.
Die nuwe ProNutro is ook as ’n meer veelsydige produk bemark. Verbruikers kon dit op die tradisionele manier as ontbytgraan eet of dit in ’n skommel meng.
ProNutro was volgens PepsiCo geslagte lank deel van Suid-Afrikaanse huishoudings en gesinsroetines. Die maatskappy se aankondiging bring dié lang verbintenis met die Suid-Afrikaanse mark nou tot ’n einde.
Terugspore/Pingbacks