Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die repokoers met 25 basispunte tot 7,25% verhoog te midde van toenemende inflasierisiko’s.

Die besluit is Woensdag 23 September deur die Bank se monetêre beleidskomitee (MBK) aangekondig. Handelsbanke se prima-uitleenkoers styg dienooreenkomstig van 10,50% tot 10,75%.

Dit volg nadat rentekoerse in Julie onveranderd gelaat is. Sedertdien het internasionale verwikkelinge die inflasievooruitsigte verswak en die Reserwebank genoop om weer op te tree.

Olieprys en rand onder druk

Die verslegtende oorlog in die Midde-Ooste het wêreldwye oliepryse skerp laat styg, met die prys wat tot byna $100 per vat geklim het.

Bitter min olie beweeg tans deur die belangrike Straat van Hormoes, terwyl gevegte in Jemen ook Saoedi-Arabië se olie-uitvoer ontwrig het.

Verdere druk het gekom van die Amerikaanse Federale Reserweraad, wat sy rentekoerse onverwags verhoog het. Dit het die rand verswak en die Reserwebank genoop om op te tree om die geldeenheid te verdedig en ingevoerde inflasie te demp.

Kerninflasie kan bo 5% styg

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gewaarsku dat kerninflasie waarskynlik later vanjaar en vroeg volgende jaar tot bo 5% sal styg.

Die Bank verwag egter dat dié druk daarna geleidelik sal afneem en dat inflasie teen die einde van 2027 weer rondom 3% kan wees.

Kganyago het gesê die geopolitieke konflik veroorsaak ernstige skokke aan die aanbodkant van die ekonomie. Dit kan produksie verswak en terselfdertyd inflasie aanwakker.

Voedselinflasie op laagste vlak sedert 2010

Te midde van die groter inflasiedruk het Kganyago ook op gunstiger omstandighede in die landbousektor gewys.

Voedselinflasie is tans op sy laagste vlak sedert 2010. Volgens hom weerspieël dit sterk oeste, asook ’n stabilisering in vleispryse ná die uitbreking van bek-en-klouseer.

Die Bank begin volgens Kganyago egter binnekort droogtedruk weens El Niño waarneem. Vir nou bly die algemene landboutoestande gunstig.