Europese lande (NAVO) het besluit om nie oorlogskepe na die Straat van Hormuz te stuur nie, ten spyte van druk van die Amerikaanse president, Donald Trump, dat bondgenote moet help om die belangrike waterweg te heropen.
Duitsland het deelname aan enige militêre aktiwiteit uitgesluit, insluitend pogings om die seestraat te heropen. “Daar was nog nooit ’n gesamentlike besluit oor of daar ingegryp moet word nie. Dit is waarom die vraag oor hoe Duitsland militêr kan bydra, nie ter sprake kom nie. Ons sal dit nie doen nie,” het die kanselier, Friedrich Merz, gesê. Die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, het beklemtoon dat dit nie Europa se oorlog is nie en gevra waarom die VSA nie self die situasie kan hanteer nie.
Die Britse premier, Keir Starmer, het ook gesê die Verenigde Koninkryk sal nie in ’n groter oorlog ingetrek word nie, hoewel daar gewerk word aan ’n moontlike oplossing om stabiliteit in die oliemark te herstel.
Italië se minister van buitelandse sake, Antonio Tajani, het Maandag gesê dat “diplomasie moet seëvier” en dat sy land by geen vlootmissies betrokke was wat na die gebied uitgebrei kan word nie.
Australië, Frankryk en Japan het gesê hulle het geen planne om oorlogskepe te stuur nie.
By ’n perskonferensie Maandag het Trump sy oproep aan bondgenote herhaal om te help om skeepsverkeer in die seestraat te heropen en gesê “sommige is baie entoesiasties daaroor en sommige nie”. Hy het herhaal dat hy “nie tevrede is met die VK nie”, maar meen dat hulle wel betrokke sal raak.
Trump het ander lande opgeroep om by die oorlog betrokke te raak deur skepe na die seestraat te stuur om kommersiële vaartuie te beskerm en olieversendings te ontsluit.
Hy het die druk verhoog en Sondag in ’n onderhoud gesê: “Dit is net gepas dat diegene wat baat by die seestraat help om seker te maak dat niks daar gebeur nie. As daar geen reaksie is nie of dit ’n negatiewe reaksie is, dink ek dit sal baie sleg wees vir die toekoms van NAVO.”