Deur Josef du Toit

Die wrede besluit vroeër in Augustus van die Amerikaanse deelstaat Massachusetts veroorsaak steeds skokgolwe in die Christelike wêreld. Massachusetts het, soos nege ander Amerikaanse deelstate, wetlike beperkings op aborsie ná 24 weke verwyder, sodat aborsie ná die inwerkingsdatum van 8 November in beginsel gedurende die hele swangerskap moontlik sal wees. ’n Artikel deur Chris Develing het later dieselfde maand in Nederland se Reformatorisch Dagblad (agter ’n betaalmuur) verskyn. Dit is nou ook op die gratis Engelstalige Christian News Europe vertaal.

In 2022 het die Amerikaanse grondwetlike hof die omstrede Roe v. Wade-uitspraak omgekeer. Die vorige hofbesluit het state verhinder om aborsie vóór ‘lewensvatbaarheid’ te verbied. Sedert die omkering daarvan in 2022 is die aangeleentheid prakties afgewentel na elke deelstaat om sy eie besluit te neem. Christene wêreldwyd het met groot dankbaarheid kennis geneem van behoudende deelstate wat daarna teen aborsie optree. Die teenoorgestelde, soos uit die Massachusetts-geval blyk, is tragies ook ’n gevolg.

Ondersteuners van Massachusetts se besluit wys op die verwydering van die vorige beperking tot 24 weke. Hulle sê dit gee medici die reg om in elke geval op grond van die geneesheer se professionele oordeel op te tree. Die vorige wetgewing in Massachusetts het reeds kriteria gespesifiseer. Binne dié kriteria kon aborsie ook ná 24 weke uitgeoefen word. Nou is daar geen algemene kriteria meer nie. Daarom kan die onderskeid tussen sosio-ekonomiese motiewe en mediese gronde nie meer konsekwent getref word nie, verduidelik Develing.

Aborsie-aktiviste lê klem op die moeder se reg tot liggaamlike selfbeskikking. Hulle gaan so ver as om te sê dat niemand gedwing mag word om hul liggaam te gebruik om ’n ander persoon aan die lewe te hou nie. Aborsie-ondersteuners dring gewoonlik daarop aan dat die ongebore ‘fetus’ nog nie ’n kind of persoon is nie. Sommige gaan egter nog verder: selfs al is die ongebore kind ’n mens in eie reg, mag hy of sy van die moeder se lewendgewende ondersteuning afgesny word. Develing wys daarop dat die wettiging van kindermoord tot onmiddellik voor geboorte daarom die logiese gevolg is.

Van buitengewone belang is die oorlewingskans van babas wat uiters voortydig, op 24 weke, gebore word. Hulle het steeds ’n betekenisvolle kans op oorlewing – in ’n onlangse groot Amerikaanse studie sowat 71%. Met kraaminduksie kan voorafbeplanning vir die beste moontlike omstandighede vir moeder en kind daargestel word. Dit is iets wat dikwels ontbreek by onverwagte, uiters vroeë geboortes. As die moeder na 24 weke haar liggaamlike selfbeskikking steeds opeis, en ’n moorddadige regstelsel hierdie opeising toelaat, waarom nie tot kraaminduksie oorgaan nie? Waarom eerder die kind dood?

Die negatiewe antwoord hierop is minder verbasend as mens in ag neem wat in Brittanje gebeur het. Daar is ’n opsienbarende aantal gevalle gevind van aanvanklik ‘onsuksesvolle’ aborsies waarin die kind die wrede aborsiepoging oorleef het en, ondanks die feit dat die baba lewend buite die moeder se liggaam gebore is, willens en wetens van mediese hulp ontneem en aan sigself oorgelaat is om te sterf. ’n Weerlose lewende baba roep normaalweg instinktief ’n reaksie van beskerming en teerheid op — des te meer in ’n mediese omgewing — maar hierdie kinders is, teen daardie diep menslike instink in, soms ure lank aan die dood oorgelaat. Geen lewendgebore baba, selfs een wat betyds gebore is en sonder enige aborsieprosedure, sou sulke hartelose afstandigheid oorleef het nie. Selfs die moontlikheid van kraaminduksie, gevolg deur neonatale sorg en aanneming indien die moeder nie self die kind wil grootmaak nie, blyk geen noemenswaardige plek in dié redenasie te hê nie.

Die dramatiese teendeel van hierdie verharding teenoor die ongebore kind vind ons in die tere liefde waarmee Psalm 139:13-16 oor die mens as skepping van die Here spreek: Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.