Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het inwoners en die sakegemeenskap gevra om betrokke te raak by pogings om Lichtenburg se historiese bakens te beskerm, nadat die kop van ’n burgerfiguur op die Anglo-Boereoorlog-monument op die dorpsplein die afgelope naweek afgekap is.

Die organisasie sê die jongste voorval is deel van ’n groter probleem van aanhoudende vandalisme en verval by verskeie erfenisterreine in die dorp.

’n Petisie is nou begin om die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit tot optrede aan te spoor en terselfdertyd meer mense by die bewaring van die dorp se erfenis te betrek.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, probeer die organisasie reeds jare lank om die toestand van Lichtenburg se erfenisbakens met die munisipaliteit aan te spreek.

Verskeie bekende bakens het intussen skade gely. Die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum is in Oktober 2023 deur ’n brand verwoes wat ook ’n deel van die stadsaal beskadig het.

Ook monumente wat met generaal Koos de la Rey verband hou, is al gevandaliseer. Die kop van sy borsbeeld is meer as een keer afgekap, terwyl ’n deel van die sweep van die De la Rey-ruiterstandbeeld afgesaag en gesteel is.

Die Afrikaanse Taalmonument het ook skade opgedoen nadat onder meer letters en die biddende hande verwyder is. Die 1938-Eeufeesmonument is eweneens al erg gevandaliseer.

Die FAK sê die nuwe veldtog is nie net daarop gemik om steun op papier te werf nie, maar om inwoners, oud-inwoners, ondernemings en ander belangstellendes by praktiese bewaringspogings te betrek.

Die organisasie wil hê die munisipaliteit moet duidelik aandui watter stappe geneem gaan word om die oorblywende erfenisbakens te beskerm. Indien die nodige kapasiteit ontbreek, meen die FAK dat ander wettige bewaringsopsies ondersoek moet word.

Volgens Müller is breër gemeenskapsbetrokkenheid nou nodig om verdere verlies van Lichtenburg se geskiedkundige bakens te probeer voorkom.

Teken die petisie hier en help om Lichtenburg se erfenis vir toekomstige geslagte te beskerm.