’n Reeks plaasaanvalle in verskillende dele van die Vrystaat wek kommer vir Vrystaat Landbou (VL).
Dr. Jane Buys, VL se veiligheidsrisiko-ontleder, sê die omvang en aard van die voorvalle is kommerwekkend, veral omdat dieselfde soort misdade in verskillende gebiede voorkom.
Een van die jongste gevalle het in die Excelsior-omgewing voorgekom. ’n Verdagte is verlede week daar in hegtenis geneem nadat daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig met die doel om diesel te steel.
In die Hobhouse-omgewing is drie verdagtes in verband met trekkerdiefstal in hegtenis geneem. Die drie is vermoedelik van Lesotho afkomstig en werk in Suid-Afrika.
Buys sê twee soortgelyke voorvalle het vroeër vanjaar in die Tweespruit-omgewing plaasgevind. Ook daar is na bewering probeer om honde te vergiftig om ’n voertuig en ’n trekker te steel.
Inligting waaroor VL beskik, dui volgens Buys daarop dat dieselfde sindikaat moontlik by verskeie van dié voorvalle betrokke kan wees.
Nog ’n patroon is die tyd waarop die voorvalle plaasvind. Volgens Buys gebeur dit hoofsaaklik tussen 23:00 en 02:30, met twee tot drie verdagtes wat betrokke is.
Kommer oor misdaad is nie tot dié gebiede beperk nie.
In die Bothaville-omgewing is 26 ongedokumenteerde buitelanders in hegtenis geneem nadat hulle na bewering by onwettige mynbedrywighede op ’n plaas betrokke was.
Buys sê die jongste voorvalle vorm deel van ’n breër tendens wat in verskeie dele van die Vrystaat waargeneem word.
VL meld ook voorvalle van onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal, asook die diefstal van koperkabels, transformators en sonkragpompe.
Boerderygemeenskappe word intussen aangemoedig om misdaadvoorvalle tydens hul maandelikse veiligheidsvergaderings aan te meld.