Ná dreigende, selfs “beskawing-verwoestende” uitsprake wat die Amerikaanse president Donald Trump Dinsdag teen Iran gemaak het, het die wêreld Woensdagoggend wakker geword met ’n laaste-oomblik-wapenstilstand, met albei partye wat oorwinning opeis.
Hoewel die tweeweek-skietstilstand nog nie ’n permanente einde aan die oorlog beteken nie – met samesprekings wat Vrydag in Pakistan hervat – het internasionale oliepryse Woensdagoggend met tot 16% gedaal en rondom $94 per vat verhandel. Intussen het wêreldmarkte positief gereageer, met aandele wat in vroeë handel gestyg het.
Dit is welbekend dat hoë oliepryse ’n wêreldwye brandstofkrisis veroorsaak het, maar die vraag bly of hierdie week se daling in Brent-ruolie ook tot laer brandstofpryse in Suid-Afrika in Mei sal lei.
Hoewel dit nog te vroeg is om die presiese uitwerking op plaaslike brandstofpryse te bepaal, is dit onwaarskynlik dat die huidige olieprysvlak tot noemenswaardige dalings by die pomp volgende maand sal lei – om verskeie redes.
Eerstens het die prys van Brent-ruolie nog nie teruggekeer na die laer vlakke wat voor die uitbreek van die Midde-Oosterse konflik geheers het nie. Gedurende die hersieningsperiode wat Suid-Afrika se Maart-brandstofpryse bepaal het – die laaste voor April se rekordverhogings – het Brent teen ’n gemiddelde van $69 verhandel, volgens die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne. Tans verhandel dit rondom $94, bykans dieselfde as die gemiddelde tydens die mees onlangse hersieningsperiode wat April se pryse bepaal het. Die styging in oliepryse het geleidelik plaasgevind, en nie die volle impak daarvan is reeds in April se brandstofpryse weerspieël nie.
Daar is egter ’n moontlike ligpunt.
Voor die aankondiging van die wapenstilstand het data van die Sentrale Energiefonds (CEF) daarop gedui dat dieselpryse in Mei met sowat R10 per liter kon styg, terwyl petrol met tussen R2 en R4 per liter kon verhoog. Hoewel hierdie vroeë maanddata steeds in die volgende prysaanpassing sal deurwerk, kan die onderverhalings in ’n groot mate geneutraliseer word indien oliepryse rondom $94 of laer bly.
Eenvoudig gestel beteken dit dat verbruikers waarskynlik eerder matige as skerp prysaanpassings in Mei kan verwag – hoewel dit steeds te vroeg is om definitiewe voorspellings te maak.
Die gunstigste scenario sou wees dat oliepryse verder daal namate positiewe ontwikkelinge uit die vredesgesprekke na vore kom, wat veral vir diesel ’n mate van verligting kan bring.
Die grootste impak sal egter waarskynlik eers in Junie sigbaar wees. Indien die samesprekings misluk en die konflik hervat, kan die kritieke Straat van Hormuz weer gesluit word, wat oliepryse bo $100 per vat kan opstoot en die wêreldwye brandstofkrisis verder vererger.
Aan die ander kant kan ’n permanente vredesooreenkoms tot laer oliepryse lei en die skerp brandstofverhogings, wat wêreldwyd druk op ekonomieë plaas, begin omkeer.
Wat kenners sê
Dit bly egter onseker of oliepryse binne afsienbare tyd na hul vooroorlogse vlakke sal terugkeer.
Volgens Saul Kavonic, ontleder by MST Marquee, kan Iran selfs ná ’n vredesooreenkoms meer geneig wees om die Straat van Hormuz in die toekoms te bedreig, wat ’n blywende risikopremie in die mark kan vestig.
Vivek Dhar van Commonwealth Bank meen daar is steeds ruimte vir ’n betekenisvolle geopolitieke risikopremie wat vir die afsienbare toekoms in oliepryse ingebou sal bly.
Tony Sycamore van IG het bygevoeg dat die wapenstilstand wel ’n positiewe begin is, maar dat daar nog baie onsekerhede is wat uitgeklaar moet word.
Patrick De Haan van GasBuddy sê op sy beurt dat die wapenstilstand nog nie werklik duidelikheid gebring het oor die toekoms van die Straat van Hormuz nie.
Hoe lank hou die belastingverligting?
Daar is ook die kwessie van die Suid-Afrikaanse regering se tydelike belastingverligting van R3 per liter, wat voor April se brandstofverhogings aangekondig is. Sonder hierdie verligting sou petrol met R6,06 per liter gestyg het en diesel met tussen R10,37 en R10,51 per liter.
Hoewel die regering aangedui het dat die verligting moontlik met nog ’n maand verleng kan word, sal hierdie gefinansierde aanpassing uiteindelik weer in die brandstofprysstruktuur ingewerk moet word.
Dit kan tot verdere prysstygings lei indien internasionale oliepryse nie voldoende daal om dit te verreken nie.