President Cyril Ramaphosa het Erfenisdag gebruik om Suid-Afrikaners opnuut daaraan te herinner dat apartheid en die onregte van die verlede volgens hom nooit vergeet mag word nie.
Ramaphosa het Donderdag tydens die nasionale Erfenisdagviering by die Bongolethu-sportstadion in Oudtshoorn gepraat. Die geleentheid is vanjaar onder die tema “Celebrating Our Living Heritage: Strengthening the Ties That Bind Us” aangebied.
Hoewel Erfenisdag ’n viering van die land se verskillende tale, tradisies en kulture is, het Ramaphosa ook ’n deel van sy boodskap aan Suid-Afrika se politieke verlede gewy.
Hy het gesê erfenis gaan ook oor ’n volk se geheue en dat ’n nasie wat sy geskiedenis vergeet, die gevaar loop om sy koers te verloor.
Ramaphosa het onder meer gesê Suid-Afrikaners moet onteiening, slawerny, kolonialisme, apartheid en gedwonge verskuiwings onthou. Hy het ook verwys na die vernedering wat mense weens rasseskeiding ervaar het.
Weerstand teen apartheid ook deel van boodskap
Die president het verder gesê Suid-Afrikaners moet nie net die lyding van die verlede onthou nie, maar ook die weerstand teen dié onreg.
Volgens hom moet die moed en solidariteit van diegene wat teen apartheid geveg het, deel van die land se kollektiewe herinnering bly. Hy het ook verwys na miljoene gewone mense wat geweier het om onreg as permanent te aanvaar.
Ramaphosa het die Grondwet, nierassigheid, versoening en gelykheid voor die reg as deel van die demokratiese Suid-Afrika se erfenis voorgehou. Volgens hom het Suid-Afrikaners in 1994 gekies om die onreg van die verlede te erken en terselfdertyd ’n nuwe nasie te bou.
Reg op eie taal, kultuur en geloof
Ramaphosa se toespraak het egter nie net oor apartheid gehandel nie. Hy het ook beklemtoon dat erfenis van een geslag na die volgende oorgedra moet word.
Hy het gesê Suid-Afrika bestaan uit mense met verskillende geskiedenisse, kulture, tale en gelowe, en dat Suid-Afrikaners nie altyd oor alles saamstem nie.
Ramaphosa het ook die reg van burgers om hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul eie taal te praat en daarin onderrig te ontvang, beklemtoon.
Volgens hom leef erfenis onder meer voort in gemeenskappe, die verhale en kennis van ouer geslagte, musiek, geloof, gebruike en taal. Erfenis wat nie aan ’n volgende geslag oorgedra word nie, hou volgens hom uiteindelik op om ’n lewende erfenis te wees.
Die president het Suid-Afrikaners uiteindelik opgeroep om hul verskille opsy te skuif en saam te werk.
Daar is egter ’n opvallende ironie in Ramaphosa se Erfenisdagboodskap. Hy het Suid-Afrikaners gemaan om apartheid nooit te vergeet nie — ’n bestel wat onder ’n Afrikaner-geleide regering toegepas is — maar het sy toespraak afgesluit in die taal wat juis ’n kernbestanddeel van Afrikaners se erfenis is:
“God seën Suid-Afrika en beskerm haar mense.”
Boer24 wonder: Hoe moet Afrikaners dié twee boodskappe op Erfenisdag met mekaar versoen?
Terugspore/Pingbacks