André Esterhuizen se aanwysing as Springbokkaptein vir Sondag se toets teen Australië in Perth het kritiek op sosiale media ontlok nadat ’n rassismevoorval uit sy skoolrugbydae, 14 jaar gelede, weer onder die soeklig gekom het.

Esterhuizen, wat tans 32 jaar oud is, sal die 68ste speler word wat die Springbokke in ’n toets aanvoer wanneer Suid-Afrika die Wallabies in die Optus-stadion pak.

Die omstredenheid spruit uit ’n voorval in 2012 toe Esterhuizen 18 jaar oud was en vir Hoërskool Klerksdorp gespeel het.

Voorval uit 2012 duik weer op

Esterhuizen is destyds deur ’n tugkomitee van die Luiperds-rugbyunie skuldig bevind nadat hy ’n rassistiese belediging teenoor Thabo Molete, destyds die eerstespanafrigter van Potchefstroom Gimnasium en afrigter van die Luiperds se Grant Khomo-span, gebruik het.

Hy is ’n verbod van een jaar op rugby opgelê, wat vir ses maande opgeskort is op voorwaarde dat hy ’n lewensvaardigheidskursus voltooi. Hy is ook uit die Luiperds se Cravenweekspan gelaat.

Die voorval het nou, 14 jaar later, weer aandag gekry nadat Esterhuizen as Springbokkaptein aangewys is.

Die uitsaaier Anele Mdoda was onder die openbare figure wat daarop gereageer het. Sy het ’n ou nuusberig oor die voorval op X gedeel en geskryf: “He should be banned from playing rugby period!”

Die herlewing van die 14 jaar oue voorval het terselfdertyd debat laat ontstaan oor hoe lank ’n oortreding waarvoor iemand as tiener reeds gestraf is, hom behoort te volg.

Erasmus: Esterhuizen verdien die geleentheid

Springbokafrigter Rassie Erasmus het verduidelik waarom Esterhuizen die kapteinskap gekry het, ondanks die teenwoordigheid van ervare voormalige Bokkapteins soos Eben Etzebeth en Handré Pollard in die beginspan.

Volgens Erasmus gaan die besluit oor die uitbreiding van die Springbokke se leierskapsgroep eerder as bloot die keuse van ’n kaptein vir een wedstryd.

“Dit was nie ’n vraag oor wie ons kaptein gaan maak nie; dit was ’n vraag oor hoe ons ons senior spelers ontwikkel sodat almal ’n stem het,” het Erasmus verduidelik.

Hy het daarop gewys dat Etzebeth, ongeag of hy kaptein is, dieselfde ingesteldheid en ervaring na die span bring. Pollard is eweneens ’n ervare leier, terwyl Jesse Kriel en Siya Kolisi ook reeds die Springbokke aangevoer het.

Etzebeth is as onderkaptein vir Sondag se wedstryd aangewys.

Van senter tot losvoorspeler

Esterhuizen het sedert sy Springbokdebuut in 2018 aanvanklik gesukkel om gereelde speeltyd te kry, met sterk mededinging om plekke in die middelveld.

Sy rol het egter verander nadat hy verlede jaar teen die Barbarians van die plaasvervangerbank af as flank gebruik is. Esterhuizen het sedertdien ’n hibriede rol in die Bokspan vervul en bied dekking op binnesenter én flank.

Hy het sedert die begin van verlede seisoen in 16 toetse gespeel, teenoor 19 in die voorafgaande ses jaar.

Erasmus het Esterhuizen se bereidwilligheid om verskillende rolle te aanvaar as een van sy sterkste eienskappe uitgesonder. Hy het ook verwys na sy ervaring as Sharks-kaptein en sy bereidwilligheid om agter spelers soos Damian de Allende en Damian Willemse te wag, as ’n voorspeler gebruik te word of van die plaasvervangerbank af ’n impak te maak.

Erasmus het gesê hy was ook beïndruk met die manier waarop Esterhuizen tydens ’n moeilike tydperk as Sharks-kaptein opgetree en gehelp het om die span, saam met JP Pietersen en die res van die afrigtingsopset, bymekaar te hou.

Bokke bou aan groter leierskapsgroep

Volgens Erasmus kon Etzebeth of Pollard ook die kapteinskap gekry het, maar die Bok-afrigtingspan weet reeds wat dié ervare spelers as leiers bied.

Die doel is om meer spelers die ervaring te gee om Suid-Afrika aan te voer, veral met die oog op moontlike beserings en ander uitdagings in die aanloop tot die volgende Wêreldbeker.

“Ons kon dit weer vir Eben gegee het, maar ons weet wat hy as kaptein bring,” het Erasmus gesê.

Volgens Erasmus kan die ervaring Esterhuizen ook help om ander Bokkapteins beter te ondersteun wanneer hulle die leisels neem.

Erasmus se slotsom oor Esterhuizen se aanwysing was duidelik: “Ons voel hy verdien werklik die geleentheid.”

Nou, op 32-jarige ouderdom en op die vooraand van sy eerste toets as Springbokkaptein, word die voorval uit sy skooldae weer voor sy deur gelê.

Dit laat ’n eenvoudige vraag oor hoe lank ’n misstap uit iemand se jeug nog teen hom gehou behoort te word:

Eenmaal ’n rassis, altyd ’n rassis?