Groot veranderinge wag moontlik vir geskiedenisonderrig in Suid-Afrikaanse skole. Die Departement van Basiese Onderwys wil die inhoud van die sillabus herskryf, met ’n nuwe fokus wat duidelik wegbeweeg van wat tot dusver bekend was.
Die voorstelle, wat deur minister Siviwe Gwarube gepubliseer is, stel voor dat Europese geskiedenis minder aandag kry en dat die kurrikulum rondom Afrika-ervarings opgebou word.
Dit beteken onder meer dat sekere temas heeltemal verdwyn. Amerikaanse burgerregtefigure sal nie meer deel van matriekleerlinge se werk wees nie. Intussen word sleutelgebeure soos die Anglo-Boereoorlog uit Graad 10 geskrap, saam met die Franse Rewolusie.
Die nuwe inhoud plaas die kollig op die bevrydingstryd en die politieke geskiedenis van apartheid.
Vir baie Afrikaners is die implikasie hiervan moeilik om te ignoreer. Wanneer ’n volk se geskiedenis nie meer aan sy kinders geleer word nie, raak dit meer as net die skoolbank. Dit raak identiteit, geheue en die voortbestaan van ’n kultuur.