Die aanlynwinkelreus Temu het veranderinge aangebring aan hoe Suid-Afrikaanse kliënte vir hul aankope betaal, deur nou BTW en invoerregte direk by die betaalpunt in te sluit.
Hierdie stap bring Temu in lyn met platforms soos Amazon, waar alle koste vooraf aangedui word, en maak die inkopieproses vir gebruikers baie eenvoudiger en meer deursigtig.
Voorheen moes Temu-kliënte ná versending van hul pakkies nog belasting en heffings afsonderlik betaal. Logistieke maatskappye het dikwels skakels gestuur kort nadat pakkies uit China vertrek het, wat kliënte moes gebruik om die verskuldigde bedrae te vereffen.
Dié proses het nie net vir verwarring gesorg nie, maar het ook risiko’s ingehou, aangesien kubermisdadigers die geleentheid gehad het om vals betalingskakels te stuur en oningeligte kopers te bedrieg.
Met die nuwe stelsel word alle toepaslike belastings en invoerheffings nou reeds by die finale bedrag ingesluit wanneer ’n bestelling geplaas word. Dit beteken kliënte weet vooraf presies wat hulle gaan betaal en hoef nie later verdere betalings te maak nie.