Die beplande sluiting van Premier se inmaakaanleg op Tulbagh kan meer as 3 500 werksgeleenthede in Tulbagh en omliggende dorpe in gedrang bring. Bedryfsrolspelers waarsku dat die besluit groot gevolge vir produsente, werknemers en die plaaslike ekonomie kan inhou.
Die aanleg verwerk jaarliks tussen 55 000 en 60 000 ton perskes, appelkose en pere. Meer as 200 produsente in die Wes-Kaap lewer jaarliks vrugte ter waarde van sowat R300 miljoen aan die aanleg, terwyl die verwerkte vrugte ‘n geskatte waarde van R1,2 miljard verteenwoordig.
Produsente wat aan die aanleg lewer, het intussen aangedui dat hulle die sluiting teenstaan en beoog om die saak met die minister van landbou, dr. Willie Aucamp, op te neem.
Anthony Dicey, ‘n inmaakboer van Wolseley en voorsitter van die Ashton Vrugteprodusente-koöperasie, sê die sluiting sal nie net boere raak nie, maar ook verskaffers, werknemers en die plaaslike ekonomie.
Hy sê die streek herstel steeds van die skade wat verlede jaar se vloede aangerig het, terwyl produsente ook die uitwerking van Amerikaanse invoertariewe, die konflik in die Midde-Ooste en stygende diesel- en produksiekoste moet hanteer.
Volgens Dicey is die aanleg van groot belang vir gemeenskappe soos Gouda en Saron, waar baie van die werknemers woon. Hoewel Langeberg Foods aangedui het dat hy soveel moontlik van die vrugte sal probeer inneem, glo hy nie die onderneming beskik oor voldoende kapasiteit om al die volumes te verwerk nie.
“Dit is onmoontlik. Hulle het nie die kapasiteit daarvoor nie en niemand kan die fabriek binne drie maande koop nie,” het hy gesê.
Dicey meen die kort kennisgewing plaas produsente in ‘n moeilike posisie, aangesien baie reeds tweejaarkontrakte het en produksiekoste aangegaan het om hul boorde vir die oestyd voor te berei.
Premier sê die besluit is geneem weens moeilike wêreldmarktoestande. Volgens Pieter Hanekom, uitvoerende hoof van Premier Culinary, het Amerikaanse tariewe, onsekerheid oor die African Growth and Opportunity Act (Agoa), wisselkoersdruk en ‘n wêreldwye oorskotvoorraad die bedryf die afgelope 18 maande onder groot druk geplaas.
Hanekom sê die internasionale inmaakvrugtebedryf is besig om te konsolideer en dat soortgelyke plaaslike konsolidasie nodig is om skaalvoordele te benut en kostedoeltreffendheid te verbeter. Hy voeg by dat Premier saam met Langeberg Foods wil werk om volgende jaar se vrugte-oes so ver moontlik te verwerk.
Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Inmaakvrugteprodusentevereniging (IPV), waarsku dat die gevolge veel verder as een aanleg strek. Volgens hom het produsente reeds sowat R600 miljoen in boorde belê om die aanleg te voorsien, terwyl langtermynkontrakte met die aanleg bestaan.
Hy doen ‘n beroep op Premier om sy besluit te heroorweeg en die aanleg minstens vir die komende vrugteseisoen oop te hou, sodat produsente tyd gegun kan word om by die veranderde omstandighede aan te pas.