’n Sesjarige meisie van China het binne drie dae twee keer die vrouewêreldrekord vir die oplos van ’n 3x3x3-Rubik-kubus verbeter.
Lian Yunzhi het eers ’n gemiddelde oplostyd van 4,52 sekondes behaal voordat sy dié rekord kort daarna tot 4,27 sekondes verbeter het. Die prestasies is tydens World Cube Association-kompetisies in Wuhan en Guangzhou in China behaal.
Sy is daarmee die enigste vroulike Rubik-kubus-oplosser ter wêreld met ’n gemiddelde tyd van minder as 4,5 sekondes.
Van buitemuurse klas tot rekordhouer
Lian, wat die bynaam “Zhizhi” het en van die Sichuan-provinsie afkomstig is, het aanvanklik met die Rubik-kubus kennis gemaak toe sy vir ’n buitemuurse klas ingeskryf is.
Volgens haar ma, Lin Yangxi, was dit destyds bloot een van verskeie aktiwiteite waaraan haar dogter deelgeneem het. Dans- en musieklesse was ook deel van haar buitemuurse program.
Lin sê sy het mettertyd besef dat die oplos van die kubus verskeie vaardighede by ’n kind kan ontwikkel en het gevolglik meer daarop begin fokus.
Lian het intussen meer as 1 300 algoritmes vir die oplos van die Rubik-kubus bemeester. Sy oefen daagliks tussen twee en drie uur.
Volgens haar ma gaan dié aktiwiteit oor veel meer as bloot die memorisering van formules.
“Die oplos van ’n Rubik-kubus verbeter konsentrasie, geheue, logiese denke en ruimtelike bewustheid, en help om ’n gesonde ingesteldheid teenoor wen en verloor te ontwikkel,” het Lin gesê.
“Dit gaan nie bloot daaroor om formules blindelings te memoriseer nie, maar om logiese redenasie te gebruik om die beste oplossings te vind.”
Lian se rekord van 4,27 sekondes verwys na haar gemiddelde oplostyd tydens die kompetisie en nie na die tyd van ’n enkele poging nie.
Terugspore/Pingbacks