Wat aanvanklik na bloot ’n gehawende Bybel uit 1914 gelyk het, het ’n besonderse blik op ’n Afrikanerfamilie se lewe van meer as 90 jaar gelede gebied toe handgeskrewe briewe en ’n gebed tussen die vergeelde bladsye ontdek is.

Die Bybel is een van die items wat deel sal vorm van die Stories van die Verlede Oudhedeveiling in Bloemfontein. Die veiling word as fondsinsameling ten bate van Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-streekfonds en Studiefonds aangebied.

Die ontdekking is deur Caeleigh Joubert, maatskaplike werker in die Vrystaat, gedeel nadat sy by die voorbereiding van die veiling betrokke geraak het.

Volgens Joubert het die projek met ’n eenvoudige gedagte begin: om die soort veilings wat sy uit haar kinderjare in Bloemfontein onthou, weer te laat herleef en terselfdertyd iets waardevols vir die gemeenskap te skep.

Sy vertel dat sy as kind soms onwillig saam met haar ouers na Oom Junior Bezuidenhout van Bloemfontein se veilings gegaan het. Jare later het haar betrokkenheid by die nuwe veiling haar egter onverwags diep in die geskiedenis van die Afrikaner en die verhale van vorige geslagte ingeneem.

Meer as net ’n ou Bybel

Die 1914-Bybel is tussen ander waardevolle items en Bybels gevind in ’n versameling wat aan Ons Winkel in Bethlehem geskenk is.

Op die oog af het die boek bloot sy ouderdom gewys. Die papier het vergeel, van die bladsye het met verloop van tyd van die band losgekom en meer as ’n eeu se bestaan het duidelike spore gelaat.

Die verrassing het gekom toe die Bybel oopgemaak is. Tussen die bladsye was briewe wat kleinkinders in 1933 aan hul grootouers geskryf het. Die briewe, waarin hul name verskyn, is met ’n kalligrafiepen geskryf.

Een brief was netjies gevou en in ’n selfgemaakte koevert geplaas, terwyl nog een tussen die bladsye van ’n ander hoofstuk bewaar gebly het.

Onder die persoonlike skrywes was ’n kleinseun se gebed vir sy oupa se gesondheid en sy vreugde oor ’n geskenk wat hy ontvang het. ’n Kleindogter het ook haar gedagtes aan haar grootouers neergeskryf.

Die volle verhaal van die familie is nie bekend nie, maar die dokumente bied klein kykies na hul geloof, bekommernisse en alledaagse lewe meer as 90 jaar gelede.

“Ons ontdek nie net oudhede nie. Ons ontdek stories,” skryf Joubert.

Erfenis tussen die bladsye

Vir Joubert het die ontdekking op Erfenisdag besondere betekenis gekry.

Sy beskryf erfenis as meer as bloot groot historiese gebeurtenisse, bekende mense of voorwerpe wat in museums bewaar word. Dit lê volgens haar ook in die dinge wat gewone mense agterlaat — ’n brief, ’n handgeskrewe gebed, ’n ou foto of ’n Bybel wat van een geslag na die volgende beweeg het. “Dit is die klein stukkies van mense se lewens wat vir ons vertel waar ons vandaan kom,” skryf sy.

Die Stories van die Verlede-veiling vorm volgens Joubert deel van gemeenskapsontwikkeling waardeur mense, stories, hulpbronne en geleenthede bymekaargebring word om iets waardevols vir die gemeenskap te skep.

Meer as 100 kosbaarhede onder die hamer

Die Bybel is een van meer as 100 items wat vir die Stories van die Verlede Oudhedeveiling byeengebring is. Altesame 72 van dié items is reeds bekendgemaak.

Onder andere het Orania, sowel as versamelaars en instellings van reg oor Suid-Afrika, waardevolle items vir die veiling beskikbaar gestel. Hierdie uiteenlopende bydraes help om die verhaal van ons geskiedenis en erfenis op ‘n besondere wyse te vertel.

Onder die Orania-verwante items is ’n 1 oz-fynsilwer-gedenkmedalje ter herdenking van 35 jaar van Orania, asook ’n gesogte Ora uit die I-reeks met die lae reeksnommer 49.

Die Orania-vlag wat tydens die verwelkoming van die Paul Kruger-standbeeld in Orania op 2 Oktober 2025 gebruik is, sal ook opgeveil word.

Verskeie herdenkingsstukke ter viering van die 150-jarige herdenking van die Groot Trek (1838–1988) vorm deel van die versameling, asook ’n Voortrekkermonument-lampie.

Vir boekliefhebbers is daar ’n volledige stel van Totius se Versamelde Werke, ’n C.J. Langenhoven (eerste uitgawe)-stel wat van Orania afkomstig is, en ’n verskeidenheid volksboeke. Historiese dokumente sluit Government Gazette 1900 Vol II in, asook uitgawes van die Orange River Colony Government Gazette vir Januarie tot Junie 1903 en Januarie tot Junie 1905.

Van oorlogshelms tot ou koffiemeuletjies

Die versameling bevat ook ’n verskeidenheid antieke skilderye en oorlogshelms, asook horings wat gebruik is om mense bymekaar te roep. ’n Engelse blokhuisvenster en antieke rugbytokse wat by die Langenhoven Park Boeremark in Bloemfontein raakgeloop is, is ook onder die items.

Die huishoudelike voorwerpe sluit ’n verskeidenheid antieke eetware, ’n koeksistersnyer met sy oorspronklike verpakking en erdekruike uit die 1950’s in.

’n Geelkoper-melkkan uit die 1950’s en ’n geelkoper- en koperblompot met handvatsels uit ongeveer dieselfde tydperk sal ook opgeveil word.

Antieke koffiemeuletjies en ’n antieke handmodel vleis- of tabakmeul is ook deel van die versameling.

Nog ’n item is ’n Standard Bank-spaarbussie uit die tydperk 1930 tot 1950, wat gebruik is om Suid-Afrikaners aan te moedig om te spaar.

’n  Gesogte 5 pond Voortrekker-koffieblik, met die aanduiding TE BECKET & CO (CAPE) LTD, Prestwickstr., Kaapstad, sal ook onder die hamer kom.

Daar is verder ’n sogenaamde “konsertina-biljetsak”, in Engels bekend as ’n accordion billfold, ’n ongeveer 30 jaar oue gevlegte sweep en ’n versilwerde bord wat in Brittanje vervaardig is.

Ou tegnologie kry weer aandag

Onder die groter gebruiksvoorwerpe is ’n ou wasmasjien wat volgens die beskrywing uit die middel van die 19de eeu tot die vroeë 20ste eeu dateer. Dit word beskryf as ’n voorbeeld van die vroeë tegnologie wat op die wasbord en wasplank gevolg het.

Nog ’n item, wat na raming uit ongeveer 1860 tot 1920 dateer, is ’n waskroef. Volgens die beskrywing is dit tradisioneel aan die agterkant van ’n diensossewa gemonteer.

Die naaf van ’n wawiel vorm ook deel van die versameling — “die middelpunt waarom alles gedraai het”.

Die groot verskeidenheid voorwerpe sluit aan by Joubert se beskrywing van die veiling: Dit gaan nie bloot oor oudhede nie, maar ook oor die stories en erfenis wat daarmee saamkom.

Die Stories van die Verlede Oudhedeveiling vind op 20 Oktober 2026 om 18:00 by Trinity Auction House in Bloemfontein plaas.

Belangstellende kopers kan reeds by die veilinghuis registreer indien hulle in ’n item belangstel. Diegene wat nie die aand persoonlik teenwoordig kan wees nie, sal ook die geleentheid hê om telefonies in te bel en aan die bieproses deel te neem.

Die publiek is welkom om Caeleigh Joubert te kontak by 072 837 6240 indien hulle meer oor die verhaal agter ’n spesifieke item wil uitvind. Sy beskik oor die volledige lys van veilingitems, asook die verhaal en besonderhede wat met elkeen verband hou.