‘n Britse begrafnisondernemer is Vrydag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat dosyne liggame maande lank onbehoorlik by sy onderneming geberg is en talle families die verkeerde as van oorledenes ontvang het.
Robert Bush (48), eienaar van Legacy Independent Funeral Directors in Hull in Noordoos-Engeland, het skuld erken op 67 aanklagte. Hy sal minstens die helfte van sy vonnis uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kom.
Regter Nicholas Hilliard het gesê Bush se optrede het op ‘n “industriële skaal” plaasgevind en onbeskryflike lyding en hartseer vir talle families veroorsaak.
Die polisie het Bush se perseel in 2024 ná ‘n wenk deursoek en 31 liggame in ‘n koelkamer aangetref wat maande tevore veras moes gewees het. Onder hulle was ‘n doodgebore baba wie se liggaam byna twee jaar lank daar gebly het.
Volgens die regter was die meeste van die liggame onbedek en op rakke in die koelkamer geplaas. Hy het die toestande by die onderneming as uiters haglik beskryf.
‘n Voormalige werknemer het die begrafnisonderneming tydens vroeëre hofverrigtinge as ‘n “gruweltoneel” beskryf.
Die polisie het ook meer as 100 stelle as op die perseel gevind en vasgestel dat daar in minstens 46 gevalle verkeerde as aan families oorhandig is.
Volgens die regter het baie families uiteindelik niks van hul geliefdes se oorskot oorgehad nie. In sommige gevalle kon die polisie slegs ‘n leë plastieksakkie of ‘n teelepel vol as terugvind.
Hy het verder gesê enige persoon wat gedurende die onderneming se bedryf van Bush se dienste gebruik gemaak het, kan nou nie seker wees hoe hul geliefde se oorskot hanteer is of wie se as hulle ontvang het nie.
Bush het aanvanklik aan die polisie gesê dat hy nie die liggame laat veras het nie weens kontantvloeiprobleme. Die regter het dié verduideliking egter verwerp en bevind dat Bush homself doelbewus ten koste van sy kliënte verryk het.
Gedurende die vyf dae lange vonnisverrigtinge het verskeie families getuig oor hoe die oorskot van hul geliefdes mishandel is.
Die saak het oproepe vir strenger regulering van die begrafnisbedryf in Engeland en Wallis laat toeneem. Andy Burnham het sy steun uitgespreek vir groter regulering en gesê geen familie behoort weer deur so ‘n beproewing te gaan nie.
In Engeland en Wallis is begrafnisondernemers nie verplig om gelisensieer te wees nie, wat beteken dat enigiemand ‘n begrafnisonderneming kan begin.