’n Vrou in Ethiopië se Harari-streek het ná 12 jaar se pogings om swanger te raak geboorte geskenk aan ‘n vyfling.
Bedriya Adem sê sy en haar man is oorstelp van vreugde om tegelyk met vyf kinders geseën te wees.
Die 35-jarige het vier seuns en ’n dogtertjie by die Hiwot Fana-gespesialiseerde hospitaal in die wêreld gebring. Volgens die hospitaal is al vyf babas in goeie gesondheid.
“Ek kan nie my geluk in woorde beskryf nie,” het sy gesê, en vertel hoe sy voorheen met depressie en emosionele pyn geworstel het totdat haar gebede verhoor is.
Die hospitaal se mediese direkteur, dr. Mohammed Nur Abdulahi, het bevestig dat die ma en haar babas steeds onder mediese sorg is. Die babas het elk tussen 1,3 en 1,4 kg geweeg by geboorte.
Hy het verduidelik dat pasgeborenes met ’n geboortegewig van meer as een kilogram ’n goeie kans op oorlewing en gesonde ontwikkeling het.
Volgens Abdulahi het Bedriya op ’n natuurlike wyse swanger geraak, sonder die gebruik van in vitro-bevrugting (IVF).
Die bevalling het Dinsdagaand per keisersnee plaasgevind.
“Sy het deurgaans gereelde mediese sorg ontvang en is vooraf ingelig dat sy meer as een baba verwag. Sy het volledige en toepaslike mediese ondersteuning gehad,” het Abdulahi gesê.
Bedriya vertel dat sy aanvanklik meegedeel is dat sy vier babas verwag, maar dat daar tydens die geboorte ’n vyfde baba gebore is.
Die vyf babas, wat sy as haar “vyf seëninge” beskryf, is Naif, Ammar, Munzir, Nazira en Ansar genoem.