Die kabinet het goedgekeur dat die geldigheidstydperk van Suid-Afrika se bestuurslisensiekaarte vir ligte motorvoertuie van vyf jaar na 10 jaar verleng word. Die verandering sal egter eers in werking tree nadat die nodige wetswysigings afgehandel is.
Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die besluit Donderdag tydens ‘n mediakonferensie ná Woensdag se kabinetsvergadering aangekondig.
Volgens Ntshavheni geld die verandering vir kode A-, A1-, B- en EB-bestuurslisensiekaarte.
Die verlengde geldigheidstydperk is slegs op ligte motorvoertuie van toepassing. Bestuurslisensies vir swaar kommersiële voertuie en openbare vervoervoertuie sal steeds volgens die bestaande hernuwingsiklusse van twee of vyf jaar hernu word, terwyl professionele bestuurspermitte (PrDP’s) aan die huidige tweejaartermyn onderhewig bly.
Ntshavheni het gesê die besluit bring Suid-Afrika in ooreenstemming met internasionale beste praktyk, verbeter administratiewe doeltreffendheid, verminder die behoefte aan gereelde hernuwings en verlig die druk op die land se lisensiëringstelsel.
Sy het egter beklemtoon dat die verlengde geldigheidstydperk nie onmiddellik ingestel kan word nie.
“Die implementering van die verlengde geldigheidstydperk vereis wetswysigings. Motoriste moet daarom voortgaan om vervalde bestuurslisensiekaarte te hernu totdat die nuwe wet in werking tree,” het sy gesê.
Die besluit gaan verder as die departement van vervoer se vorige voorstel om die geldigheidstydperk van vyf na agt jaar te verleng.
Die departement se direkteur-generaal, Mathabatha Mokonyana, het verlede week aan die parlement se Keurkomitee oor Openbare Infrastruktuur gesê die departement het sy werk aan die agtjaarvoorstel afgehandel.
Volgens Mokonyana het ‘n evaluering getoon dat Suid-Afrikaners oorweldigend ten gunste van ‘n langer geldigheidstydperk vir bestuurslisensiekaarte is.
“Hulle wil nie elke vyf jaar na ons terugkom nie. Daarom gaan ons beslis binnekort na agt jaar beweeg,” het Mokonyana destyds gesê.
Die kabinet se besluit beteken die voorgestelde verlenging van agt jaar word nou tot 10 jaar uitgebrei. Motoriste sal egter steeds hul bestuurslisensiekaarte volgens die huidige vyfjaartermyn moet hernu totdat die nodige wetswysigings aanvaar is en die nuwe bedeling in werking tree.