Planne om die Durbanse hawe uit te brei deur ’n groot stuk seegrond droog te lê, kan ’n wesenlike verskil maak aan Suid-Afrika se uitvoervermoë – veral vir die landboubedryf wat swaar steun op doeltreffende logistiek.
Die voorgestelde ontwikkeling behels dat ’n gebied van sowat 22 hektaar – ongeveer die grootte van 22 rugbyvelde – met sand opgevul word. Die sand sal uit die seebodem naby die hawe verkry word. Indien die projek goedgekeur word, sal die nuwe grond gebruik word vir die bou van ’n ekstra kaaimuur, meer vasmeerplekke en verbeterde hanteringsgeriewe vir houerskepe.
Vir boere en uitvoerders is dit ’n broodnodige stap. Die Durbanse hawe hanteer tans die grootste deel van die land se houerverkeer en dien as ’n sleutel skakel tussen binnelandse landboustreke en internasionale markte. Tog het die hawe die afgelope jare gesukkel met vertragings en kapasiteitsprobleme.
Hoewel wagtye vir skepe reeds verbeter het – van weke lank na enkele dae – bly daar druk op die stelsel. Die uitbreiding kan help om hierdie knelpunte verder te verlig en die vloei van uitvoere, veral tydsensitiewe produkte soos sitrus, te versnel.
Landbou-organisasies het die planne oor die algemeen verwelkom. Hulle meen beter hawekapasiteit kan uitvoerprosesse vergemaklik en Suid-Afrika se mededingendheid in wêreldmarkte versterk. Tog word beklemtoon dat infrastruktuur alleen nie ’n wondermiddel is nie – operasionele doeltreffendheid, voldoende toerusting en beter samewerking met spoorvervoer bly noodsaaklik.
Daar is ook ’n sterk beroep dat die private sektor ’n groter rol moet speel om die nodige opgraderings te versnel. Volgens bedryfsleiers groei uitvoervolumes jaarliks, terwyl bestaande kapasiteit nie bybly nie.
Die projek maak deel uit van ’n breër poging om die Durbanse hawe uit te bou sonder om ’n heel nuwe hawe te bou.
Intussen sal die nodige wetlike prosesse gevolg moet word voordat die projek kan voortgaan. Dit sluit openbare deelname en omgewingsstudies in om te verseker dat die ontwikkeling volhoubaar geskied en nie die kusomgewing benadeel nie.
Vir ons Boere bly die hoop dat hierdie tipe beleggings uiteindelik sal lei tot vinniger, meer betroubare uitvoerroetes – iets wat noodsaaklik is vir ’n landboubedryf wat toenemend op wêreldmarkte moet meeding.