Sky, ’n vyfjarige Belgiese Malinois wat as brandstigting-opsporingshond vir die polisie in Limpopo diens gedoen het, is van kant gemaak nadat sy ernstige beserings opgedoen het toe sy uit ’n hok probeer ontsnap het. Haar dood het vrae oor die SAPD se bestuur en die welsyn van diere in sy sorg laat ontstaan.

Sky is na berig word vroeër vanjaar uit diens gestel en van haar menslike hanteerder geskei. Sy is daarna in hokke aangehou en het erge stres en skeidingsangs ontwikkel.

Sy is in Maart na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se K9-fasiliteit by Roodeplaat, naby Pretoria, verskuif, maar haar welstand het nie verbeter nie.

Sky het ernstige beserings opgedoen toe sy uit haar hok probeer ontsnap het. Sy is vir noodbehandeling na Onderstepoort geneem, maar haar toestand het gedurende die nag drasties versleg. Sy is Woensdagoggend van kant gemaak weens die erns van haar beserings.

Volgens DA-LP Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre komitee oor polisie, het Sky ’n oop fraktuur aan haar linker voorbeen gehad, wat daartoe gelei het dat weefsel in die ledemaat begin afsterf het. Haar regter voorbeen was ook gebreek en die vel daar het begin afsterf.

Haar spiere het uitgebreide skade opgedoen en begin afbreek, wat veroorsaak het dat haar urine rooi geword het. Volgens Cameron het dit daarop gedui dat haar liggaam nie meer die trauma kon hanteer nie en was daar ’n sterk vermoede dat haar organe begin ingee het.

Chirurgie en narkose sou weens haar toestand uiters gevaarlik gewees het. Ná oorleg met haar behandelende dokters is besluit om haar van kant te maak om verdere lyding te voorkom.

Nadoodse ondersoek by Onderstepoort

Onderstepoort sal ’n klinies-geleide nadoodse ondersoek doen en ’n formele verslag oor die bevindings saamstel.

Cameron het Dinsdag reeds ’n strafregtelike klag oor die omstandighede waarin Sky aangehou is, ingedien. Hy het kommer uitgespreek dat haar lyding moontlik voorkombaar was.

“Dit gaan nie net oor een hond nie. Sky se dood laat ernstige vrae ontstaan oor die toesig, bestuur en welsyn van elke dier wat aan die SAPD toevertrou word,” het Cameron gesê.

SAPD stel ondersoek in

Nasionale polisiewoordvoerder brig. Athlenda Mathe het Woensdag gesê ’n ondersoek na die omstandighede rondom Sky se behandeling is ingestel.

Volgens Mathe was Sky nie meer ’n operasionele K9 nie en het sy reeds by haar vorige K9-basis in Limpopo ’n geskiedenis gehad van ontsnapping uit hokke.

Daar is gevolglik besluit om haar by die veeartsenyfasiliteit te huisves terwyl reëlings getref is om haar by ’n geskikte nuwe eienaar te plaas. Volgens Mathe was die skenkingsproses reeds aan die gang toe die voorval plaasgevind het.

Waarskuwing oor Sky se welsyn

Cameron sê Sky is met skeidingsangs en erge hokstres gediagnoseer. Volgens hom het ’n sertifikaat uitdruklik aangedui dat haar prognose binne die SAPD-omgewing swak was en dat sy nie daar kon aanbly sonder dat haar welsyn in gedrang kom nie.

Hy sê dié bevinding is 10 dae voor die voorval wat uiteindelik tot haar dood gelei het, skriftelik aangeteken.

Cameron beweer verder dat toestemming gevra is om Sky tydelik na ’n geskikte huis te neem terwyl die formele aansoek afgehandel word. Volgens die inligting tot sy beskikking is dié versoek egter nie verder gevoer nie.

Hy betwis ook die indruk dat daar nog bloot na ’n geskikte eienaar gesoek is. Volgens Cameron se inligting is ’n geskikte en gewillige persoon reeds geïdentifiseer en het lede ’n onmiddellike manier voorgestel om Sky uit die hokomgewing te verwyder terwyl die papierwerk afgehandel word.

Hy het geëis dat die SAPD verduidelik hoe die plasingsproses na bewering sowat 160 dae kon voortduur terwyl sy eie veeartsenypersoneel geweet het dat aanhouding in ’n hok ’n risiko vir Sky ingehou het.

Cameron het ook gevra dat alle veeartsenyrekords, nadoodse bevindings, biologiese monsters, kringtelevisiebeeldmateriaal, hokregisters, diensroosters, inspeksierekords en interne kommunikasie bewaar word.

Volgens hom moet diegene wat van die gevaar geweet het, die bevoegdheid gehad het om op te tree en versuim het om Sky te beskerm, onafhanklik ondersoek word en, waar die getuienis dit ondersteun, vervolg word.