Meer as 3 000 mense het op Erfenisdag by die Voortrekkermonument saamgetrek vir die Toeka tot Toekoms-fees, waar Afrikaanse musiek, geskiedenis en tradisies van vroegoggend tot laatmiddag gevier is.
Die Kultuurtuiste het die fees onder die tema “Toeka tot Toekoms” aangebied. Die program het oud en nuut saamgevoeg, met volkspele, boeredanse en boeremusiek wat deel gevorm het van ’n dag waarop ook hedendaagse Afrikaanse kunstenaars, jong talent en die FAK-Skryf’it-finaal die verhoog gedeel het.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, sê die fees het gewys dat erfenis nie bloot iets uit die verlede is nie, maar ’n belangrike rol speel in hoe gemeenskappe hul toekoms vorm.
“Erfenis leef wanneer mense dit beleef. Vandag het ons gesien hoe musiek, geskiedenis, taal, kos, handwerk en stories mense van verskillende generasies bymekaarbring. Dit is die krag van ’n lewende kultuur. Dit verbind ons met waar ons vandaan kom én gee ons iets om aan die volgende geslag oor te dra,” het Langner gesê.
Van boeremusiek tot Afrikaanse treffers
Die dag het met die Toekomstalent-program begin, waarna die Pretoria Volkspelelaers, die Barny Armstrong-boereorkes en die Wapadrand- en Lekkerdraai-Boeredansers aan die beurt gekom het.
Pieter Smith het om 10:00 opgetree, terwyl ’n optog met onder meer veteraanmotors, perde, honde, die brandweer en ander deelnemers later verdere kleur aan die Markplein verleen het.
Tuin Schoeman en Logan Pietersen, onderskeidelik die naaswenner en wenner van FAK-Skryf’it 2025, het ook opgetree.
Eloff en Elvis Blue het die dag se musiekprogram afgesluit.
Kanonskote laat geskiedenis herleef
Een van die dag se besondere oomblikke was ’n historiese kanonkettingskoot kort ná 13:00.
Die ZAR Kanonniersvereniging het die replika-kanonne Grietjie en Susanna gebruik as deel van ’n landwye reeks van 31 kanonskote wat van Simonstad en Kaapstad tot by Lephalale afgevuur is.
Die kanonskote het die historiese Hollandse kanonoproepstelsel herdenk, waardeur boodskappe met rook- en klankseine oor groot afstande oorgedra is.
‘Bittermooi Boland’ wen Skryf’it
Die kollig het later na jong Afrikaanse musiektalent verskuif toe die FAK-Skryf’it-finaal aangebied is.
William Wolf, John-Henry Opperman, Andriëtte Norman, Ampie en Danie “Reënwolf” du Toit het saam met hul finaliste opgetree.
Die ma-en-dogter-span Aniel en Milla Redelinghuys van Wellington is uiteindelik met hul liedjie, “Bittermooi Boland”, as wenners van die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie aangewys. Hul mentor, Andriëtte Norman, het die liedjie gesing.
Kinders beleef erfenis eerstehands
Kinders is deur die uitgebreide Trap der Jeugd-program by die dag se erfenisvieringe betrek.
By die Pioniersentrum kon hulle onder meer gesigverf, verf- en inkleuraktiwiteite en ballonkuns geniet. Daar was ook brood uit die buiteoond, ’n modeltreintjie-uitstalling en die geleentheid om hul eie ketties te maak en te toets.
Op die Plaaswerf kon jong besoekers plaasdiere voer, perd- en kameelritte geniet, verfbal speel, trampolien spring en dwergbokkies vertroetel. By die Lewende Laer kon hulle stokbrood maak en eet, kleiosse maak en aan ’n sweepklapkompetisie deelneem.
“Ons wil hê kinders moet ontdek dat erfenis nie net iets is wat ’n mens in ’n boek lees of agter glas in ’n museum sien nie. Wanneer ’n kind self brood bak, ’n dier voer, ’n liedjie sing of ’n ou tradisie beoefen, word daardie erfenis deel van sy of haar eie ervaring,” het Langner gesê.
Geskiedenis ook deur posseëls vertel
Die Erfenis 2026-uitstalling van die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria vorm ook deel van die verrigtinge en word van 24 tot 26 September in die Voortrekkersaal aangebied.
Die uitstalling wys hoe posseëls, posstempels, poskaarte en ander posstukke waardevolle historiese verhale kan bewaar.
Meer as 150 stalletjies het kos, kunsvlyt en ander produkte aangebied, terwyl Die Dameskring se teetuin in die FAK-Liedjietuin ’n gewilde kuierplek vir feesgangers was.
Volgens Langner gaan die fees uiteindelik daaroor om ruimtes te skep waar mense hul kultuur saam kan beleef.
“Die boodskap van Toeka tot Toekoms is eenvoudig: ons erfenis behoort nie agter ons te lê nie. Ons neem dit saam vorentoe. Wanneer ’n jong mens saam met ’n ouer geslag sing, dans, stories hoor en nuwe musiek ontdek, word die verlede ’n bousteen vir die toekoms,” het hy gesê.
Die Kultuurtuiste het die kunstenaars, deelnemers, vrywilligers, vennote, stalletjiehouers en besoekers bedank wat tot die fees bygedra het