’n Groot goudkleurige standbeeld van die Amerikaanse president Donald Trump het ’n storm van reaksie in die Verenigde State ontketen.
Die ses-komma-sewe meter hoë monument, wat by Trump National Doral in Miami opgerig is, beeld Trump uit met ’n opgehewe vuis – ’n verwysing na die sluipmoordpoging wat hy in 2024 in Pennsilvanië oorleef het.
Die debat het veral toegeneem nadat ’n openbare gebedseremonie by die standbeeld gehou is. Foto’s en video’s van die geleentheid het vinnig op sosiale media versprei en kritiek uitgelok, veral uit Christelike kringe.
Baie het hul kommer uitgespreek oor die feit dat predikante in die openbaar rondom ’n reuse-goue beeld van ’n politieke figuur gebid het, en sommige het dit as moontlike afgodery beskryf.
Volgens berigte het Pastoor Mark Burns dié kritiek verwerp. Hy het gesê die vergelyking met die goue kalf in Eksodus 32 is ongegrond en het beklemtoon dat die betrokkenes nie die standbeeld aanbid nie.
“Ons aanbid die Here Jesus Christus en Hom alleen,” het hy gesê.