NAIROBI – Vyftien olifante het die afgelope maand in Kenia se Amboseli-ekostelsel gevrek, terwyl voorlopige laboratoriumtoetse op ‘n moontlike gifstof as die oorsaak dui.
Volgens die Keniaanse Natuurlewediens (KWS) is die vrektes tussen 24 Junie en 24 Julie in die Amboseli Nasionale Park, die Kimana-reservaat en die Kuku Ranch-gebied aangemeld.
Duncan Wanyama, hoof van kommunikasie by die KWS, het gesê die olifante is op verskeie plekke sowat 15 km tot 30 km buite die park se grense aangetref.
Tien van die olifante het soortgelyke simptome ontwikkel voordat hulle gevrek het. Dit het gedeeltelike verlamming ingesluit wat hulle verhinder het om op te staan. Die diere het binne een tot twee dae nadat die simptome begin het, gevrek.
Die ander vyf karkasse was reeds te ver ontbind of deur aasvreters beskadig, wat dit onmoontlik gemaak het om die oorsaak van hul dood vas te stel.
Volgens die KWS was die meeste gevalle olifantkoeie en kalwers, met slegs een volwasse bul onder die aangemelde vrektes.
Nadat die eerste vrektes aangemeld is, het die KWS veeartsenyspanne van Nairobi, Tsavo en Amboseli ontplooi om nadoodse ondersoeke uit te voer en monsters vir laboratoriumontleding te versamel.
Voorlopige laboratoriumtoetse van die Universiteit van Nairobi het volgens die KWS op ‘n moontlike gifstof in monsters van verskeie van die aangetaste olifante gedui.
Die natuurlewediens het egter beklemtoon dat verdere ontledings nodig is om die konsentrasie van die stof vas te stel en dat daar tans geen bewyse is dat die voorval ‘n gevaar vir mense se gesondheid inhou nie.
Omgewingsondersoeke duur steeds voort. Dit sluit die toets van waterbronne en die ondersoek na ander moontlike kontaminante in die betrokke gebiede in. Die KWS het ook toesig oor die ekostelsel verskerp en monitor olifantbevolkings noukeurig.
In ‘n afsonderlike bewaringsprojek het die KWS vroeër die week aangekondig dat vyf olifante uit die Mwea-gebied na ‘n beskermde habitat verskuif word nadat hulle maande lank landbougemeenskappe binnegedring en gewasse beskadig het. Twee olifante is reeds op die eerste dag van die sesdaagse operasie suksesvol verskuif. Volgens die KWS is die doel om konflik tussen mense en wild te verminder.