‘n Regter in die Amerikaanse deelstaat Utah het Woensdag beslis dat dele van ‘n video-onderhoud met die kamermaat van Charlie Kirk se vermeende moordenaar nie in die openbaar in die hof vertoon mag word nie, nadat die verdediging aangevoer het dat die inhoud Tyler Robinson se reg op ‘n billike verhoor kan benadeel.
Regter Tony Graf het gelas dat sekere gedeeltes uit die opname gesny moet word voordat dit in die hof gespeel word. Hy het egter gesê hy sal die volledige opname self oorweeg wanneer hy besluit of die staat genoeg getuienis voorgelê het om Robinson (23) strafregtelik te laat verhoor.
Robinson staan tereg op sewe aanklagte, waaronder moord met verswarende omstandighede. Die vervolging vra dat die doodstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word.
Hy word daarvan beskuldig dat hy Charlie Kirk (31), ‘n prominente bondgenoot van president Donald Trump en stigter van Turning Point USA, op 10 September 2025 voor duisende mense op die kampus van die Utah Valley-universiteit doodgeskiet het terwyl hy met studente gedebatteer het.
Die beslissing oor die onderhoud met Robinson se kamermaat, Lance Twiggs, is op die derde dag van die voorlopige verhoor gemaak. Twiggs is nie van enige misdryf aangekla nie.
Volgens aanklaer Lauren Hunt het Twiggs op 20 April ingestem om ‘n onderhoud met aanklaers en die polisie te voer in plaas daarvan om tydens die voorlopige verhoor te getuig.
Robinson se regsverteenwoordiger, Richard Novak, het vergeefs versoek dat die video agter geslote deure vertoon word. Hy het aangevoer dat die staat die inhoud na verwagting as “bekentenisse” sal beskryf en dat dit moontlike lede van ‘n jurie kan beïnvloed.
“Ons is baie bekommerd dat die publikasie van wat die staat as bekentenisse sal beskryf, mnr. Robinson se reg op ‘n billike verhoor skend,” het Novak gesê.
Charlie Kirk se weduwee, Erika Kirk, was vir ‘n derde agtereenvolgende dag in die hof. Haar regsverteenwoordiger, Jeffrey Neiman, het aangevoer dat die opname volledig vertoon moet word.
“Om nie deursigtig te wees nie en nie die wêreld te wys wat gebeur het nie, sal twyfel en wantroue in die regstelsel skep,” het hy gesê.
Die vervolging het gesê die gewysigde weergawe van die opname sal na verwagting Donderdag in die hof gespeel word.
Regter Graf het intussen aangedui dat hy waarskynlik nie hierdie week sal besluit of die saak na ‘n volledige strafverhoor verwys word nie.
Robinson, wat ten tyde van die skietvoorval as elektrisiën gestudeer het, het nog nie op die aanklagte gepleit nie. Sy regsverteenwoordigers voer aan dat die polisie nie voldoende ondersoek ingestel het na die moontlikheid dat iemand anders ook by die moord betrokke kon wees nie.
Die vervolging beplan om teksboodskappe tussen Robinson en Twiggs, asook boodskappe uit ‘n Discord-groepgesprek, as getuienis voor te lê.
Volgens hofstukke het Twiggs Robinson ná die skietery per teks gevra of hy Kirk geskiet het. Die vervolging beweer Robinson het bevestigend geantwoord.
Toe Twiggs hom vra waarom hy Kirk geskiet het, het Robinson volgens die hofstukke geantwoord: “Ek het genoeg gehad van sy haat. Sommige haat kan nie wegonderhandel word nie.”
Die vervolging voer aan dié boodskappe dui daarop dat Robinson Kirk weens sy konserwatiewe politieke standpunte geteiken het. Die verdediging betwis dié uitleg en probeer keer dat die beweerde politieke motief as getuienis gebruik word, omdat dit deur die staat gebruik kan word wanneer die hof oor ‘n moontlike doodstraf moet besluit.