~ Deur DwarsDoring
Daar was ’n tyd toe ’n mens ’n argument kon afsluit met: “Ek het dit met my eie oë gesien.”
Daardie tyd is verby. Vandag kan jy dit met jou eie oë sien, met jou eie ore hoor, dit drie keer terugspeel, en steeds kyk na iets wat nooit gebeur het nie.
Welkom by die era van kunsmatige intelligensie, waar die leuen nie meer swak beligting en ’n twyfelagtige Facebook-opskrif nodig het nie. Hy kom nou in hoë definisie.
Die Franse het dit pas eerstehands beleef
Tydens die gewelddadige betogings van 17 Oktober in Frankryk is byna alles verfilm. Ware plundering. Ware brandstigting. Ware botsings met die polisie.
Maar klaarblyklik was die werklikheid nie dramaties genoeg nie. KI-vervaardigde foto’s het begin versprei van onder meer honderde trekkers wat glo Parys binnekom, ’n betoger in ’n Pink Panther-pak wat met ’n waterkanon bestook word en selfs ’n bejaarde egpaar wat glo tydens die oproer verneder is. Alles vals.
Intussen is die werklike geweld tussen dieselfde materiaal rondgestuur.
Dink ’n oomblik daaroor. Die probleem is nie meer bloot dat ’n leuen soos die waarheid kan lyk nie. Dit is dat die waarheid nou langs ’n leuen staan wat presies net so eg lyk.
Politici het natuurlik ook die nuwe speelgoed ontdek
In Amerika word generatiewe KI reeds volop in die 2026-verkiesingsveldtog gebruik.
Volgens die Wesleyan Media Project is teen 11 Oktober ongeveer $137 miljoen aan 220 politieke advertensies met KI-elemente bestee. Axios het verskeie voorbeelde gevind waar politici of ondersteunende groepe teenstanders in tonele geplaas het wat nooit bestaan het nie, woorde of situasies geskep het wat nie werklik gebeur het nie, en dit in sommige gevalle sonder duidelike waarskuwing versprei het. Politieke propaganda is natuurlik niks nuuts nie.
Ons het nou net die deel uitgeskakel waar die propagandis darem voorheen ’n werklike foto moes vind. Vooruitgang.
Suid-Afrika is nie immuun nie
Die OVK het reeds in Februarie gewaarsku dat die 2026-plaaslike verkiesings ’n nuwe soort probleem kan bring: hiperplaaslike KI-wanligting.
Nie net ’n vals video van ’n bekende nasionale politikus nie. ’n Vervaardigde stemnota van jou plaaslike raadslid.
’n Vals kennisgewing oor ’n stemlokaal. ’n KI-video van ’n diensleweringskrisis wat nooit gebeur het nie. ’n Gefabriseerde verkiesingsuitslag wat ure voor die werklike uitslag versprei.
Die OVK verwag selfs ’n “vlaag van deepfakes”. En ons weet mos hoe Suid-Afrikaners met ’n dramatiese WhatsApp-boodskap werk. Lees? Nee. Verifieer? Hoekom?
“Aangestuur soos ontvang.” Daardie vier woorde het waarskynlik al meer nonsens versprei as ’n klein koerantgroep.
Selfs ’n hof kan binnekort vra: Is dié video werklik?
OpenAI en Meta het hierdie maand Amerikaanse regsliggame gewaarsku dat KI-vervaardigde beeld- en klankmateriaal reeds só gevorderd is dat dit soms uiters moeilik van egte materiaal onderskei kan word. Daar bestaan tans geen foutlose opsporingsmetode nie.
Uit 931 Amerikaanse regters wat ondervra is, het slegs 15 tot dusver sake met moontlike deepfake-bewyse teëgekom. Dit klink klein.
Maar die probleem lê voor ons, nie agter ons nie.
Denemarke werk intussen aan wetgewing wat die ongemagtigde verspreiding van realistiese KI-kopieë van iemand se gesig of stem kan verbied. Die wêreld begin dus reeds wette skryf vir ’n probleem wat vyf jaar gelede nog na wetenskapsfiksie geklink het.
Maar die gevaar loop in twee rigtings
Hier lê die deel wat nog meer ontstellend is. As KI enigiets vals kan vervaardig, kan ’n skuldige persoon uiteindelik ook na werklike beeldmateriaal wys en sê: “Dis KI.”
Dit word soms die leuenaar se dividend genoem. Hoe meer deepfakes bestaan, hoe makliker word dit om ware getuienis verdag te maak. Die tegnologie bedreig dus nie net ons vermoë om ’n leuen uit te ken nie. Dit bedreig ons vermoë om die waarheid te bewys.
Vir ’n Christen is dit uiteindelik ’n morele probleem
Die negende gebod sê nie: “Jy mag geen valse getuienis gee nie, tensy die beeld besonders realisties lyk.” ’n Leuen bly ’n leuen.
Maar ons het nou ’n tegnologie geskep waarmee ’n mens binne minute iemand anders kan laat sê, doen of lyk asof hy iets gedoen het wat nooit gebeur het nie. Dit plaas ook ’n nuwe verantwoordelikheid op óns.
Moenie iets deel bloot omdat dit jou politieke standpunt bevestig nie. Moenie ’n vals foto versprei omdat dit die “regte mense” sleg laat lyk nie.
Waarheid verander nie van waarde omdat ’n leuen toevallig vir jou kant nuttig is nie.
Ons gaan ’n nuwe gewoonte moet aanleer: Nie “Ek het dit gesien, dus glo ek dit” nie. Maar: Wie het dit geplaas? Waar kom dit vandaan? Is daar ’n oorspronklike bron? Bevestig onafhanklike bronne dit?
Want die gevaarlikste KI van die toekoms gaan waarskynlik nie die een wees wat slimmer as die mens is nie. Dit gaan die een wees wat die mens presies vertel en wys wat hy reeds graag wou glo.
En wanneer dit gebeur, het die leuen nie meer nodig om jou te oortuig nie. Hy hoef dit net vir jou te bevestig.