Melkboere in die Wes- en Oos-Kaap waarsku dat die bedryf onder ernstige druk verkeer nadat die prys wat produsente vir rou melk ontvang die afgelope maande skerp verlaag is.

Samilco, wat 195 melkboere in die twee provinsies verteenwoordig, sê hy oorweeg regsoptrede om verdere prysverlagings deur Lactalis te probeer keer.

Lactalis, eienaar van onder meer Parmalat, het die roumelkprys in September met 20 sent per liter verlaag en in Oktober met nog 20 sent. ’n Verdere verlaging van 30 sent per liter word vir November voorgestel.
Indien dié verlaging deurgaan, sal melkboere teen November altesaam 70 sent per liter minder vir hul melk ontvang.

Volgens Samilco-voorsitter Martin Steyn sal die jongste verlaging meebring dat melkboere in die Suid-Kaap net sowat R6,80 tot R6,90 per liter vir rou melk ontvang, teenoor ongeveer R8 per liter gedurende die wintermaande.
Steyn, wat reeds 35 jaar lank melkboer en vir 30 van dié jare melk aan Lactalis lewer, beskryf die situasie as ’n “bedryfskrisis”.

Ongeveer die helfte van Samilco se lede lewer melk aan Lactalis. Die organisasie se 195 lede produseer saam sowat 400 miljoen liter melk per jaar, ongeveer 12% van Suid-Afrika se totale melkproduksie.

Steyn sê ander melkverwerkers het ook vanjaar hul pryse verlaag, met dalings van tussen 40 en 55 sent per liter.
Volgens hom sal Lactalis se voorgestelde November-verlaging egter die grootste daling in minstens ’n dekade beteken.

Steyn sê melkboere het vanjaar reeds ’n verlaging van sowat 10% in roumelkpryse moes absorbeer, terwyl insetkoste steeds hoog bly. Hy sê dieselpryse het vir produsente met sowat 77% gestyg, wat die druk op boere verder verhoog.
Volgens hom sal sommige boere, veral in gebiede waar produksiekoste hoog is, waarskynlik vir die res van die jaar melk teen ’n verlies moet produseer.

Steyn meen die druk op roumelkpryse hou deels verband met gekanselleerde uitvoerkontrakte en ’n afname in vraag weens bek-en-klouseer en die heronderhandeling van uitvoergesondheidsertifikate.

Lactalis sê hy verstaan die druk waaronder melkprodusente verkeer, maar dat die maatskappy self ook met mark- en voorsieningskettingdruk te kampe het. Volgens die maatskappy is daar tans minder uitvoergeleenthede en terselfdertyd meer melk in die plaaslike mark beskikbaar, wat druk op pryse plaas.

Vraag en aanbod speel ’n groot rol in die prys wat melkboere ontvang. Roumelkpryse is nie gereguleer nie en word grootliks deur ooreenkomste tussen verwerkers en produsente bepaal. In die winter word gewoonlik minder melk geproduseer en pryse is dan geneig om hoër te wees. In warmer maande neem produksie toe en pryse daal dikwels.
Melkprodusente voer egter aan dat roumelkpryse sedert 2022 grootliks gestagneer het, terwyl produksiekoste aanhou styg het.

Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie, sê melkproduksie het teen Augustus vanjaar kumulatief met sowat 1,5% toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Produksie het in Julie met 4% op ’n jaargrondslag gestyg en in Augustus met 3,6%.

Volgens Van Heerden kan die groter hoeveelheid melk op die mark verwerkers versigtiger gemaak het, omdat hulle bekommerd is dat meer melk geproduseer kan word as wat hulle onmiddellik kan verwerk. Hy sê bek-en-klouseer het waarskynlik ’n beperkte invloed op die plaaslike melkvoorraad gehad — minder as 1% — en dat die warmer winter moontlik ’n groter rol gespeel het. Warmer temperature beteken gewoonlik meer gras en stabieler melkproduksie. Laer pryse vir soja en mielies het volgens hom ook gehelp dat boere gedurende die winter effens meer voer kon bekostig.

Samilco sê onderhandelinge met Lactalis duur voort, maar die organisasie oorweeg regsoptrede indien die voorgestelde November-verlaging voortgaan.